OUDTSHOORN NUUS - Vanjaar se Garden Route perde-uithouritte word aan Nico du Bois opgedra. Du Bois, wat Woensdagaand 30 Augustus dood is toe sy bakkie op die grottepad gerol het, was 'n groot sportentoesias en perdeliefhebber.
Die Garden Route perde-uithouritklub en die titelborg, Berluda Gastehuis, tesame met die hoofborge, Camelus Voere, Trailrider Saddles en CP Nel Bakwerke asook verskeie vennootskapborge is die inspirasie agter dié Oudtshoorn-uithourit.
Dit vind op Vrydag 15 en Saterdag 16 September by Berluda Gastehuis plaas.
Die organiseerders bied Vrydagaand, 15 September om 19:00 die ritbespre-king vir al die ruiters aan. 'n Ete sal ook bedien word vir al die deelnemers en borge.
Die Vrydagmiddag om 14:00 begin die 40 km-uithourit, asook veearts-ondersoeke vanaf 16:00 vir Saterdag se deelname.
Die Saterdagoggend om 04:00 sal die ruiters wat deelneem aan die 120 km-rit, wegspring. Om 06:00 is dit die 80 km-ruiters se beurt en om 07:00 die 40 km-deelnemers.
Die volgende kategorieë word beoordeel:
Dagruiter (slegs 40 km)
Kinderruiters (vergesel van 'n seniorruiter)
Juniorruiter (o.18)
Liggewig (73 kg of ligter)
Standaardgewig (74 kg tot 94 kg)
Swaargewig (95 kg +)
Die hoofkompetisie van die dag is die Garden Route 80 km-uitdaagren, waar die speelveld gelyk gemaak word deurdat liggewigruiters met 6% stadiger spoed gepenaliseer word en swaargewig met 6% spoed toegegee word.
In hierdie kompetisie is daar 'n R10 000 prysgeld op die spel.
Die prysuitdeling vind op die Saterdag om 15:00 plaas, waartydens die grootste prysgeld en gelukstrekkings van R50 000 uitgedeel sal word.
Oudtshoorn-uithouritte is vir die eerste keer in 2012 aangebied.
Jaarliks bederf die organiseerders, Bellinganhof, Gottland Huis, Tuishuis en Coronation Huis vir Bejaardes, Eljada (junior en senior), Klein Karoo Vaardigheidskool asook Huis Triomf die Vrydagmiddag.
Vanjaar sal die gasvrou Geraldine Grimbeeck wees. 20 Inwoners van al hierdie instansies gaan bederf word met 'n perderit en bederfpakkie asook iets te eet en drink.
Groot Kiosk van Berluda Gastehuis, Piet en Laura Schoeman, sal versnapperings en kos bedien.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'