Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep inwoners van Rose Valley wat hoofsaaklik uit jongmense bestaan het, het Woensdag 'n gedeelte van die N12 tussen Oudtshoorn en De Rust met klippe en brandende bande versper.
Volgens hulle is daar groot ontevredenheid met die wyse waarop werksgeleenthede met die konstruksiewerk op die pad, toegeken word.
Hulle beweer dat sommige gesinne se lede deurentyd kontrakwerk gegee word terwyl ander nooit 'n geleentheid kry nie.
Die raadslid vir die spesifieke wyk, Jerome Lambaatjeen, het die mense toegespreek en hulle gevra om kalm te bly totdat 'n verteenwoordiger van Roadmac, die maatskappy wat die pad herbou, met hulle kan gesels.
Die terreiningenieur het 'n ruk later met die mense gepraat en verduidelik dat hy nie namens die maats-kappy en die owerhede kan reageer nie. Terwyl die betoging by die twee punte weerskante van Rose Valley vreedsaam verloop het, het een groep inwoners gedreig om kontrakwerkers wat naby die betoging was, met klippe te gooi. Die polisie het die kontrakwerkers gevra om die onmiddellike omgewing vir hulle eie veiligheid, te verlaat.
Volgens 'n verklaring wat Woensdagmiddag deur Ntobeko Mangqwengqwe, kommunikasiebeampte van die munisipaliteit, uitgestuur is, is daar ooreengekom dat lede van die munisipale bestuur, verteenwoordigers van Roadmac en verteenwoordigers van Rose Valley, Maandag sal vergader om 'n oplossing te bespreek. Die pad was vir ure gesluit en motoriste moes 'n ompad oor Stolsvlakte gebruik.
Die pad is Woensdagmiddag deur Roadmac skoongemaak nadat die betogers ingestem het om te onttrek.
Roadmac het die konstruksiewerk op die N12 verlede jaar oorgeneem nadat die vorige maatskappy NMC bankrot verklaar is. Volgens 'n navraag wat vroeër vanjaar aan die provinsiale departement van vervoer gestuur was, verloop die werk volgens skedule.
Een van verskeie vure wat as versperring op die N12 aangesteek is. INLAS: Raadslid Jerome Lambatjeen en twee werkenemers van Roadmac vra inwoners om kalm te bly totdat hulle vrae beantwoord kan word. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'