Die 40-jarige Salmon Maritz, onder sy vriende en familie bekend as Entie, van De Rust, is Woensdagoggend net voor tien op slag dood toe sy motorfiets met die agterkant van 'n vragmotor ongeveer 3 km buite Oudtshoorn gebots het. Die ongeluk het plaasgevind 'n paar honderd meter vanaf die plek waar vier jong mense op 27 September gesterf het toe hulle motor reg van voor teen 'n ambulans gebots het.
Maritz was vanaf De Rust op pad Oudtshoorn toe om om te sien na sy taxi-besigheid toe hy met sy motorfiets teen die agterkant van 'n konstruksievragmotor wat sand langs die pad opgelaai het gebots het. Die geskokte vragmotorbestuurder wat deel is van 'n span padwerkers wat die pad se skouers skoonmaak het op die ongelukstoneel gesê dat hy net 'n harde slag teen die agterkant van die vragmotor gevoel het.
"Toe ek in my spieëltjie kyk het ek net gesien iets trek deur die lug agter die lorrie." Hy het onmiddellik van die pad afgetrek en toe die liggaam van Maritz in die pad sien lê met die motorfiets 'n paar meter verder in 'n sloot wat hulle pas skoongemaak het.
Die Oudtshoorn Courant was minute na die ongeluk op die toneel, maar kon geen ooggetuies vind wat die ongeluk sien gebeur het nie. Die vragmotorbestuurder het na 'n laaigraaf aan die oorkant van die pad, ongeveer 100 meter van die ongelukstoneel af gewys en bevestig dat hy besig was om grond weg te ry wat deur die laaigraaf op die vragmotor gelaai is.
Hy sê dat hy alreeds in die pad, op pad Oudtshoorn toe was, maar stadig gery het toe hy die slag gevoel het.
Maritz se pa, Antonie Minnie, was kort na die ongeluk op die toneel en het in trane uitgebars toe hy sy seun se lyk wat met 'n kombers bedek was, moes uitken. "Ek was by die taxi-rank en het gewag vir Entie toe hulle my laat weet ek moet kom, hy is in 'n ongeluk." Hy is deur vriende op die ongelukstoneel ondersteun terwyl sy selfoon aanhoudend gelui het en hy gebroke moes bevestig dat sy seun dood is. Maritz was getroud en die paartjie het een kind.
Nuuskieriges van Riemvasmaak, wat langs die noodlottige pad geleë is, het in groot groepe saamgedrom terwyl die polisie se forensiese afdeling die ongelukstoneel afgesper het en die oorledene se lyk weggeneem het.
Die pad was vir ongeveer twee ure gesluit en lang toue verkeer het weerskante van die toneel in die rigting van Oudtshoorn en De Rust gewag.
Die dood van Maritz volg slegs twee weke nadat 'n motorfietsryer van Johannesburg in Meiringspoort gesterf het toe sy motorfiets die pad verlaat het en in die rivier beland het.

Die 40-jarige Salmon Maritz is Woensdag op slag dood toe sy motorfiets teen die agterkant van 'n stadig-bewegende vragmotor gebots het. Die vragmotor staan langs die pad waar dit stilgehou het na die botsing.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR