KAROO NUUS - Welkome reën het die afgelope naweek in die Karoo-streek geval, maar dit blyk dat meeste skade in Gamkaskloof plaasgevind het na 'n wolkbreuk Sondag, toe 33mm in 'n kwessie van 'n halfuur in die omgewing geval het.
Volgens Kevin van Blerk, 'n familievriend wat as woordvoerder vir die Joubert-gesin wat in Gamkaskloof woon optree, het hulle 'n totaal van 55 mm reën gemeet.
"Die reën is natuurlik fantastiese nuus vir Marinette Joubert, haar man Pieter, tannie Annetjie en oom Bennie Joubert. Hulle familie woon al donkiejare daar en is deur swaar en moeilike tye, veral die afgelope twee jaar."
Oudtshoorn Courant het twee jaar gelede berig oor die brand wat in die Gamkaskloof-omgewing uitgebreek het en groot skade aangerig het na woonhuise en kampterreine in puin gelê is.
Van Blerk sê na die afgelope naweek se reën het die laaste bietjie as wat oor was weggespoel, maar het paaie na Die Hel ook verspoel.
"Spanne van CapeNature, die Joubert-familie en hul gaste was nog tot Dinsdag toe vasgekeer as gevolg van die paaie wat verspoel het. Hulle het gelukkig genoeg kos gehad om vir almal te sorg en teen Dinsdagmiddag was die paaie weer oop, maar slegs toeganklik vir 4x4-voertuie.
Foto's: Paaie verspoel in Gamkaskloof
"Die reën is fantastiese nuus vir hulle omdat dit definitief sal help om die plantegroei wat in die brand tot niet gemaak is, weer nuwe lewe te gee. Hulle moet nou met groot masjiene begin om die paaie ten volle te herstel," het hy Dinsdag aan Oudtshoorn Courant vertel.
Damme
Die wyd verspreide reën het ook 'n positiewe invloed op die damvlakke in die omgewing gehad.
Volgens Lizelle Beuker, die nuwe hoof- uitvoerende beampte van die Stompdrift-Kammanassie-waterverbruikersvereniging, het hulle 25 mm in die Stompdriftdam se opvangsgebied gemeet.
"Dit is goeie nuus vir die dam. Ongelukkig is die Kammanassiedam basies leeg en hoop ons vir reën om weer dié damvlak te lig, maar die Stompdriftdam lê tans op 21,12% en water vloei steeds in."
In die Raubenheimerdam se opvangsgebied is 22 mm gemeet en staan die damvlak tans op 46,9%. Saam met die Melvilledam, wat 100% vol is, is die damvlak 51,49%. Die Tierkloofdam in Zoar is vol en in Ladismith is 27 mm reën gemeet.
Paaie in die Gamakskloof-omgewing het verspoel na 'n wolkbreuk Sondag:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'