Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n pa van Haarlem, wat op die moord op sy 18 maande oue kind aangekla word, gaan Woensdag in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn voort.
Die saak is Maandag na vandag vir voorvonnisargumente uitgestel na die pa, Ronvigon Wildeman (27), aan moord met voorbedagte rade skuldig bevind is vir die dood van sy seuntjie, Vagon Cornelius, op 9 Februarie 2019.
Regter Mushtak Parker het Maandag gesê om ‘n klip van 18 kg twee keer bokant jou kop op te tel en op jou kind van 18 maande te laat val, kan nie ‘n ongeluk wees nie.
Wildeman is ook skuldig bevind aan verbreking van ‘n beskermingsbevel wat Merilen ‘Hetta’ Cornelius, die kind se ma, in 2016 teen hom verkry het, asook opsetlike saakbeskadiging deurdat hy Cornelius se selfoon stukkend gegooi het.
Die regter het in sy uitspraak van 54 bladsye die agt staatsgetuies as betroubaar bevind. Die verdediging het geen getuies geroep nie dus moes sy woorde aan Cornelius, "Kyk hoe spite ek jou nou" en "Kyk wat het ek nou aan ons kind gedoen" deur die hof aanvaar word.
Volgens die regter is dit gemene saak dat Wildeman die groot klip opgetel en op die kind se kop gegooi het. Dit is egter onduidelik of die klip met die tweede gooi die kind se kop getref het.
Hierdie getuienis is nooit betwis nie en so ook nie die getuienis van die forensiese patoloog, dr. Christa Hattingh, dat die kind se brein heeltemal verbrysel is nie.
Daarna het hy ‘n bekentenis aan Joslyn Delport en ao. Nicholas Wilken gemaak dat hy hom aan die polisie wil gaan oorgee omdat hy sy kind doodgemaak het.
Die regter het Wildeman se pleitverduideliking, dat hy nie bedoel het om die klip op die kind se kop te gooi, verwerp.
"Die beskuldigde het, nadat hy dit gedoen het, Hetta weggestoot en nie om verskoning gevra vir wat hy gedoen het indien dit ‘n ongeluk was nie."
Wildeman se tante, Sofie Herwels, het ter strafversagting gevra om Wildeman genadig te wees.
Volgens haar moet hy gaan werk om na sy 88-jarige oupa om te sien en dat sy moeder baie siek is.
Die staatsaanklaer, adv. Lenro Badenhorst, het dit aan haar gestel dat sy ‘n vermoënde sakevrou is wat na haar pa kan omsien. Sy besit nege voertuie en twee eiendomme.
Herwels het op ‘n stadium getuig dat sy met die beskuldigde gepraat het nadat hy in 2016 en ook in 2018 tronkstraf opgelê is vir die aanranding van Hetta Cornelius.
Sy het vir hom gesê dat hy Cornelius moet los omdat sy hom nog lank gaan laat tronk toe gaan.
Sy kon nie verduidelik waarom Wildeman reeds in gr. 6 skool verlaat het nie.
In ‘n slagofferimpakverslag, wat deur die staatsaanklaer voorgelees en as bewysstuk aanvaar is, sê Cornelius dat sy magteloos moes toesien hoe haar kind voor haar doodgemaak word, iets wat sy nooit sal vergeet nie.
Sy hoor nog elke dag die kind se geroep van "Mamma" en die ouma wat die kind opgepas het, is "stukkend".
Die regter het die saak tot Vrydag uitgestel vir vonnisoplegging
Herwels het na die hofverrigtinge aan die Oudtshoorn Courant gesê dat die familie beslis teen die skuldigbevinding en vonnis van Wildeman gaan appelleer.
Vorige artikel: Pa van kleuter aangekla van moord
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'