OUDTSHOORN NUUS - Die pa van Haarlem in die Langkloof, wat sy 18 maande oue seuntjie vermoor het deur ‘n klip swaarder as 18kg twee keer op hom te laat val, is Vrydag in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn lewenslange gevangenisstraf opgelê.
Regter Musthak Parker het met vonnisoplegging van die 27-jarige Ronvigon Wildeman gesê dat hy geen wesenlike of dwingende omstandighede kon vind om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie.
Wildeman is volgens die regter aan ‘n wrede beplande moord skuldig bevind.
Sy persoonlike omstandighede wat deur die verdediging as versagtend voorgehou is, verskil nie, volgens die regter, van die omstandighede van miljoene ander Suid-Afrikaners nie.
“Dit is onrusbarend dat geweldsmisdade teenoor kinders en vroue in Suid-Afrika bly styg. Dit het ‘n fenomeen geword,” het die regter gesê.
“‘n Ma is wreed van haar kind ontneem.”
Wildeman is ook 12 maande gevangenisstraf vir die verbreking van ‘n beskermingsbevel opgelê sowel as ‘n boete van R2 000, of ses maande gevangenisstraf, vir opsetlike saakbeskadiging.
Die hof het beslis dat die vonnisse samelopend uitgedien kan word.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'