OUDTSHOORN NUUS - 'n Nuwe outismesentrum is Dinsdagaand tydens 'n spesiale lintknip-geleentheid by Eljada Kaïros-Skool geopen.
Dié skool is die enigste skool in die Oudtshoorn-omgewing wat leerders op die outismespektrum opvoed.
Volgens Hennie Baartman, skoolhoof, is dit 'n spesiale geleentheid en wag hulle al lank om dit met die Oudtshoorn-gemeenskap te deel.
DA-LP, Eleanore Bouw-Spies, het 'n spesiale openingstoespraak gelewer waarin sy sê as oudonderwyser was sy skaam om te besef hoe min sy werklik van leerders op die outismespektrum weet. Sy hoop dat mense in die wêreld daar buite hul houding teenoor persone op die spektrum verander deur hulself meer te leer oor wat dit beteken. Sy het die skool sterkte met hul taak toegewens.
Mari-Lu Roller, 'n opvoeder van een van die klasse, het aan gaste verduidelik dat die skool tans 21 leerders op die outismespektrum het en hoe waardevol die nuwe klasse, wat deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement gebou is, vir die leerders is.
"Baie min mense verstaan waaroor outisme gaan en hoe moeilik dit vir die leerders is om in sosiale omgewings in te pas omdat meeste van hulle glad nie oor die kommunikasievaardighede beskik om hulself reg uit te druk nie.
"Ons werk as hul opvoeders is om hulle daarmee te help."
Volgens haar het hulle drie klaskamers gekry wat elkeen 'n "quiet room" het waar die leerders stil kan wees wanneer hulle emosies hulle oorweldig. Elke klaskamer is ook met 'n stoorkamer ingerig en het hul eie badkamers wat ook rolstoelvriendelik is.
"Daar is ook 'n lewensvaardigheidklas waar ons hulle basiese vaardighede soos houtwerk en kosmaak leer sodat hulle wel moontlik eendag vir hulself sal kan sorg."
Volgens haar is hulle besig om die tuin te ontwikkel sodat dit ekonomies en watervriendelik is, maar ook 'n plek waar die kinders hulself kan geniet.
Baartman het na die tyd al die borge wat die aand moontlik gemaak het bedank, maar in besonder vir Bertus Conradie van Ricoh wat ook vier interaktiewe witborde geborg het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'