Update
DYSSELSDORP NUUS - 'n Oupa van Dysselsdorp het verlede Saterdag waarskynlik sy kleinseun se lewe gered toe hy hom voor 'n aankomende motor weggeruk het en self in die proses raakgery is.
Andrew Botha het sonder om twee keer te dink oor die pad gehardloop om die vierjarige, Miquel Botha, uit die motor se pad te ruk. Botha het kop-, nek-, rug- en ribbeserings opgedoen.
Volgens Botha het hulle stilgehou om padkos te koop.
"Ons sou net vis en chips gekoop het. Soos gewoonlik eet ons sommer terwyl ons ry. Miquel is 'n baie hiperaktiewe kind en is 'n regte woelwater. Hy is ook baie lief vir KFC en het seker gedink ons gaan soontoe. Hy het uitgeklim en om die kar gehardloop en is oor die pad na KFC toe. My hart het in my skoene gaan sit toe ek sien die kar gaan hom raakry. Ek het oor die pad gehardloop en hom betyds vasgegryp. Die kar het my getref. Met die impak het hy uit my hande gespat en kneusplekke opgedoen. Dit was verskriklik om in so 'n situasie te wees."
Botha sê Miquel ry gereeld saam met hom. "Dis maar 'n oupa en kleinseun ding. Elke keer as ek in die kar klim spring hy ook in. Saterdag was dit my verantwoordelikheid om te sorg dat hy nie seerkry nie. Ek kon nie staan en toekyk hoe my kleinseun deur 'n kar raakgery word nie."
"Ek weet baie mense sien my nou as 'n held, maar ek is net 'n oupa wat lief is vir my kleinseun."
Botha sê hy is glad nie kwaad vir die bestuurder van die ander voertuig nie. "Dit was nie hulle skuld nie. Miquel het blindelings oor die straat gehardloop en vir homself die gevaar geskep om raakgery te word. Ek is net bly dat ons so lig daarvan afgekom het. Dit kon baie erger gewees het. Ek kan net dankie sê vir God dat Hy ons in die holte van Sy hand gehou het. Ek en Miquel is dankbaar dat ons 'n tweede kans op lewe gegun is."
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie sê geen klag word ondersoek nie.
Lees 'n vorige artikel: Oupa red kleinseun
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'