OUDTSHOORN NUUS - ’n 54-jarige vrou van Gamka-Wes, Calitzdorp, wat haar 3-jarige kleinkind, in die arms van haar dogter, per ongeluk met ‘n mes in die kop gesteek het, is in die Oudtshoorn-streekhof tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis nadat sy aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind is.
Maria Andries het skuldig gepleit en erken dat sy op 28 September 2019 haar dogter met ‘n mes wou steek omdat sy kwaad was vir haar oormatige drinkery.
Sy was self onder die invloed van alkohol en het toe die kind, wat haar dogter in haar arms gehad het, in die kop gesteek.
Brian Carelse van die Regshulpraad het die hof vir ‘n opgeskorte vonnis gevra.
Andries het kwaad geraak vir haar dogter wat weer erg dronk was en het ‘n mes gegryp om haar te steek. Sy het misgesteek en die kind in die kop gesteek.
Volgens ‘n mediese verslag was die wond egter nie lewensgevaarlik nie.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies het die hof egter vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Andries aan ‘n ernstige misdryf skuldig bevind is. “Die beskuldigde drink haar dronk en word dan aggressief,” het Plaatjies gesê.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Andries was onverantwoordelik en het ‘n sinnelose daad gepleeg. Sy het die direkte opset gehad om haar dogter te steek, en toe steek sy haar kleinkind raak.
Die soort optrede word volgens die landdros met misnoeë deur die gemeenskap bejeën. Die hof moet ‘n vonnis oplê wat andere sowel as die beskuldigde afskrik.
Hy het in ag geneem dat Andries skuldig gepleit en berou toon oor wat sy gedoen het en afgewyk van die minimum vonnis van tien jaar, maar bygevoeg dat ‘n opgeskorte vonnis onvanpas sal wees.
Andries is ingevolge Artikel 276 (1) (i) gevonnis wat bepaal dat sy na die uitdiening van ‘n sesde van die vonnis (tien maande) om parool aansoek kan doen.
Sy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'