SUID-KAAP NUUS - 'n Bejaarde vrou van Graaff Reinet is die oostewind in die plaaslike kunstenaar, Moses Williams, se seile.
"My ouma is die rede waarom ek nooit my gangster-kursus kon voltooi nie. Sy het ons almal in lyn geforce. Sy is my rots."
Só vertel Sarie Williams (79) se trotse kleinkind, wat ter ere van sy grootmoeder 'n hele handelsmerk, Ouma Sarie, in haar naam geregistreer het. Haar pittige sêgoed verskyn deesdae op T-hemde en sy het aanlyn volgelinge wat weekliks na haar luister.
Williams, 'n bekende verhoogpersoonlikheid in die plaaslike vermaaklikheidswêreld vertolk die rol van Ouma Sarie. Williams is werksaam by Garden Route Media as skrywer en akteur, en tree gereeld as seremoniemeester by funksies op.
It wasn't matter
Williams se eerste aanlynvertoning met homself in die rol van sy alter ego, Ouma Sarie, was 'n reusesukses. Meer as 250 kaartjies is vir die vertoning op 5 September Ouma Sarie: It wasn't matter verkoop en menige het hom al gevra wanneer kan hulle die volgende een verwag. Twee kaartjies is deur oorsese kykers gekoop.
Volgens Williams het sy weeklikse Ouma Sarie-toneeltjies op sy Facebook-blad gehelp om bewusmaking te skep: "Die ouens kan nie genoeg van haar kry nie. Die kykertal is besig om geweldig toe te neem, ek is selfs al vergelyk met Tyler Perry van Amerika."
Invloed
Williams is sowat 'n maand gelede meegedeel dat hy deur Media24 gekies is as 'n landswye invloed op kulturele vlak. "Ek is een van 'n paar mense, dis 'n geweldige eer. Hulle voer 'n onderhoud met jou en ek gaan glo ook vir projekte gebruik word," het hy gesê.
"Aan die einde van die dag is my hoofdoel om jongmense te inspireer. Hier is ek, 'n laaitie van die Karoo wat by sy ouma grootgeword het en nie eens ordentlike skoolklere kon bekostig nie, besig om diep spore te trap. Ek wou opgee, maar ek het nie. Ek was hoofseun van George Hoër.
"Ek wil vir jongelinge sê: Jy kan! Daar was 'n dag toe ek gevoel het ek wil teruggaan na Graaff-Reinet. My drama-juffrou, Tanita da Silva, het my eenkant geneem en gesê: 'Jy gaan nêrens nie.
"Jy het 'n toekoms in George. Jy het 'n toekoms in die land.' Ek begeer 'n toekoms as kunstenaar in George - dit is waarheen ek werk."
Moses Williams sê dit met 'n T-hemp: It wasn't matter - Ouma Sarie. Foto: Michelle Pienaar
Sê maar net
Ouma Sarie word deesdae genooi om funksies in die Tuinroete en by dorpe so ver as Springbok, by te woon.
Williams se motortjie kan ongelukkig nie aldag ry nie en staan soms op blokke.
Geen groot borg het hom tot dusver al genader nie, maar sy selfoon is geduldig. Kontak Moses Williams by 074 301 2415 of volg hom op Facebook: MC Moses SA.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'