CALITZDORP NUUS - 'n Groep ontevrede ouers van Excelsior Primêr in Calitzdorp het Maandag 4 Maart die hekke van die skool gesluit en verhoed dat leerders die skoolterrein betree omdat hulle ontevrede is oor die omstandighede waaronder hul kinders onderrig ontvang.
Hulle het saam met hul kinders buite die terrein vergader.
Ronecia Julius, 'n ouer van twee leerders, wat tot 29 Februarie nog voorsitter van die skoolbeheerliggaam was, het gesê dat daar in gr. 7 tot 63 leerders in een klas is, en in gr. 1 tot 45 leerders.
Volgens Julius moes die gr. 7-leerders drie tot vier leerders in een bank sit. Volgens haar is die ouers bekommerd oor die tipe onderrig wat leerders ontvang as die klasse so vol is en of die onderwysers die nodige aandag aan leerders sal kan gee om seker te maak dat almal optimaal onderrig word.
Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het gesê dat die WKOD oor die protes ingelig is, en die ouers te woord gestaan het.
"Weens die groei in leerdergetalle by die skool oorweeg die distrik nou 'n versoek vir 'n addisionele pos.
Dit is aan die ouers gekommunikeer en hulle het ingestem om nie weer die skoolprogram te ontwrig nie, en die leerders die geleentheid te bied om hulle assessering vir die kwartaal sonder enige verdere onderbrekings te voltooi."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’