OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorniete is tydens ‘n waterberaad wat die Oudtshoorn munisipaliteit in samewerking met die Wes-Kaapse regering aangebied het, geloof vir die wyse waarop hulle in die huidige waterkrisis water bespaar.
Die lofprysing kom van die munisipaliteit se direkteur van tegniese dienste, Chris Koch.
Koch het by dieselfde geleentheid ook aangekondig dat die dorp tans oor genoeg water vir nege maande beskik al reën dit glad nie.
Hy het ook diegene geloof wat die inisiatief geneem het om rioolwater vir tuine teen 'n tarief aan inwoners te verskaf.
Volgens die burgemeester, Colan Sylvester is die Raubenheimerdam tans 50,22% vol en die Melville dam 100%. Die water in die twee damme is gelykstaande aan 55,2% van die kapasiteit van die Raubenheimerdam na 16 mm reënval die afgelope week.
Die beraad is bygewoon deur raadslede, senior munisipale amptenare, verteenwoordigers van Green Cape, die Wes-Kaapse Departement Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Lanbou. die toerismebedryf, die Oudtshoorn Besigheidskamer en die Klein Karoo Sakekamer.
Lourencio Pick, administratiewe beampte: Groen Ekonomie van die Wes-Kaapse Regering, het in sy voorlegging beklemtoon dat deur water te bespaar, dit ook voorkom dat werksgeleenthede verlore gaan.
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, as ook aanlyn.
Lees 'n verwante artikel: Water bestem vir Oudtshoorn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'