Update
OUDTSHOORN NUUS - Die bekende oud-inwoner van Oudtshoorn, Jean-Pierre (Boom) Oosthuizen (32) word op Vrydag 27 Julie om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente in Oudtshoorn begrawe nadat hy Saterdag 14 Julie, enkele dae ná 'n bakleiery by sy huis in Twee Kuilen, Diazstrand, dood aangetref is. Hy was die broer van Hannes Oosthuizen en Daniël Terblanche, mede-eienaar van Black Swan restaurant.
Oosthuizen, wat op Oudtshoorn grootgeword het, was verlede Woensdagaand in 'n voorval by 'n restaurant in Mosselbaai betrokke waartydens hy aangerand is. Videomateriaal van die voorval wys hoe Oosthuizen en nog 'n persoon by 'n kroegtoonbank in 'n argument betrokke raak en dan handgemeen raak. Die geveg is, na wat verneem word, buite die restaurant voortgesit en die moontlikheid dat meer mense by die voorval betrokke kon wees, word ondersoek.
Volgens Terblanche is sy broer Woensdagaand in die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai opgeneem met ernstige beserings aan sy kop en gesig.
Volgens die woordvoerder van die hospitaal, Elzaan Moelich, is Oosthuizen op Woensdagaand, 11 Julie om 23:45 vir beserings in die hospitaal opgeneem en op Vrydag 13 Julie om 08:40 ontslaan. Oosthuizen is egter die volgende dag by sy huis dood aangetref.
Volgens ingeligte bronne het kennisse Saterdag by sy huis in Twee Kuilen na hom gaan soek en deur die gordyn van sy huis gesien dat hy op die trappe sit. Hy het egter volgens die bron nie reageer nie, waarna die polisie gekontak is. Dit is later bevestig dat hy dood is.
Intussen is 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek deur die Da Gamaskop-polisie geopen, terwyl 'n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer deur die Mosselbaai-polisiestasie ondersoek word.
'n Nadoodse ondersoek het bevestig dat die oorsaak van Oosthuizen se dood weens die effek van 'n hou of houe met 'n stomp voorwerp is.
Die saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer kan gevolglik na 'n klag van moord verander word, hangende verdere verklarings, waarna die Nasionale Vervolgingsgesag dan 'n beslissing sal gee.
Jean-Pierre in die tyd dat hy in Irak gewerk het.
Die Mosselbaai-polisiewoord-voerder, ao. Pieter Koekemoer, sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Daniël Terblanche, wat in Mosselbaai is om die familie te ondersteun, het gister aan die Oudtshoorn Courant gesê sy ma, Ina, word in 'n hospitaal behandel as gevolg van die trauma van haar seun se dood.
Jean Pierre het 'n geruime tyd in Irak gewerk waar hy gemoeid was met honde-opleiding.
Lees 'n vorige artikel: Oudtshoorn-man sterf in Mosselbaai
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'