OUDTSHOORN NUUS - Jean-Pierre (Boom) Oosthuizen van Oudtshoorn is Vrydagaand in Mosselbaai oorlede.
Volgens inligting wat tans beskikbaar is, was Oosthuizen (32) Woensdagaand in ‘n voorval by ‘n restaurant in Mosselbaai betrokke waartydens hy aangerand is. Hy het ernstige beserings aan sy gesig en kop opgedoen.
Hy is Woensdagaand in die Bayview kliniek opgeneem en Vrydagoggend ontslaan. Die polisie op Mosselbaai het ‘n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer na die voorval geopen.
Volgens ‘n familievriend het Oosthuizen se vriendin hom Saterdag dood op die trappe in die huis waar hy gewoon het, aangetref. Dis op hierdie stadium nog nie duidelik wanneer hy oorlede is nie.
Na Oosthuizen se dood het die Da Gamaskop-polisie in Mosselbaai ‘n geregtelike doodsondersoek geopen en na verwagting sal ‘n forensiese ondersoek teen vanmiddag kan bepaal of die Mosselbaai-polisie ‘n saak van moord sal ondersoek.
Die ondersoek sal aandui of Oosthuizen se dood weens die ernstige aanranding is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'