OUDTSHOORN NUUS - Kokkedoor Vuur & Vlam, begin Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET en bekende Oudtshoorniet, Rodney Gelant, het sy braaitalente op dié gewilde program gaan toets.
Braaighoeroe, Kobus Botha, ook 'n Oudtshoorniet, wat nou in Frankryk woon, is een van die beoordelaars op die program.
Gelant sê hy het die advertensie op Facebook gesien en 'n week lank gedink voor hy ingeskryf het.
"Ek het bietjie getwyfel oor of ek regtig kan kook, bak en braai. Ek sien Kokkedoor as die gelyke van Masterchef Australia. Toe ek besluit dat ek wel gaan inskryf vra ek myself: 'Rodney Warren Gelant, waarmee dink jy is jy besig?' Dit het my egter nie gekeer nie."
Hy het in Augustus verlede jaar aan nog 'n kookprogram, Kookpunt, deelgeneem en volgens hom het dit 'n vernuwe energie in hom wakker gemaak.
"Ek wou myself meer uitdaag en ek geniet kosmaak en spyseniering. Ek het ook die program as 'n eg Afrikaner-program gesien en nie in my lewe kon ek dink dat ek deel daarvan sou kon wees nie."
Gelant sê sy gunsteling deel van Kokkedoor Vuur & Vlam was die feit dat hy geen idee gehad het waarvoor hy homself ingelaat het nie.
"My adrenalien het behoorlik gepomp. Ek kon nie glo dat ek uit al die duisende inskrywings gekies is om deel te neem nie. Ek dink wat wel gehelp het was my tema en my voorlegging tydens die oudisies. Oorlede Olga en John Minnie van Bushman Curios het my daarmee gehelp en ek sal hulle ewig dankbaar wees."
Wat sy gunsteling oomblikke op die program betref, sê hy, is daar te veel om te noem en sal kykers maar die program moet kyk.
"So 'n groot program kan nogal intimiderend wees en dit is nie altyd so maklik om te perform onder dié tipe druk nie. Almal gaan ook nie altyd van jou hou nie, maar dit is die goed wat jou nooit moet keer om jou drome na te streef nie. As jou drome jou nie bang maak nie, is dit nie groot genoeg nie."
Kykers het in 2013 vir die eerste keer aan die Kokkedoor-tafel kom sit en oor die jare het nog familielede van die reeks (Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie) geurryke vermaak verskaf.
Wilmer Miller, van WM Media sê, vir Kokkedoor Vuur & Vlam gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei.
Bekroonde sjef Bertus Basson en braai-ghoeroe Kobus Botha is die beoordelaars.
"'n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as 'n huiskok en hul kennis van onthoukos. Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in 'n erkende restaurant of professionele kombuis," verduidelik Miller.
Volgens hom maak talle kos- of produkspesialiste, asook 'n bekende persoonlikheid of twee, verskynings in die reeks, terwyl die bekroonde kosskrywer en EAT OUT-beoordelaar, Herman Lensing, en kosfoendi Errieda du Toit deel is van Kokkedoor Vuur & Vlam se vervaardigingspan.
Rodney Gelant. Foto: WM Media
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’