OUDTSHOORN NUUS - "Ek kan die gevoel vir niemand beskryf nie. My droom is besig om te realiseer en ek is so opgewonde daaroor."
So sê Bennedette Landman wat twee weke gelede na die finale ronde van Mevrou Heelal deurgedring het.
Landman is 'n gebore Oudtshoorniet, maar woon deesdae op Laingsburg saam met haar man en kinders.
Landman, wat in Maart uitgevind het dat sy as 'n deelnemer vir die skoonheidskompetisie gekies is, sê sedert die algehele inperking in werking getree het, is haar taak as deelnemer heelwat moeiliker, maar geniet sy steeds elke oomblik.
"Dit is uitdagend. Die werksessies word nou op Zoom gehou en hulle verwag gereelde terugvoer oor waarmee ons besig is. 'n Groot deel van die kompetisie gaan oor liefdadigheidswerk, wat in elk geval 'n groot passie van my is.
Die liefdadigheidswerk moet dus met groot versigtigheid en steeds binne die reëls geskied. Ons kan ook nêrens vlieg vir die kompetisie nie. Op die stadium hoop ons regtig dat ons die groot finaal nog die jaar kan hou dat al die deelnemers mekaar kan ontmoet."
Bennedette Landman tydens haar uitreike op Laingsburg. Foto's verskaf
Landman speel 'n groot rol in die kospakkie-projek van Oudtshoorn Top Model Academy en op Laingsburg help sy elke oggend om kos by een van die plaaslike skole uit te deel. Ook in die aande, voor die aandklok lui, deel sy kos aan ander behoeftige mense uit.
"Ons groot fokus is egter op gesinsgeweld. Met die inperking het dit ook geweldig toegeneem. Ek voel egter ek kan 'n groot verskil in slagoffers se lewens maak."
Landman werk nou saam met die Saartjie Baartman Sentrum vir vroue en kinders.
"Ek het baie navorsing gedoen voor ek by hulle betrokke geraak het en voel dat ek saam met die toegewyde lede van die sentrum 'n reuseverskil kan maak.
Die belangrikste ding wat slagoffers moet besef is dat mishandeling nie hulle skuld is nie, en dat hulle nie alleen is nie. Daar is altyd iemand wat bereid sal wees om te help."
Landman sê sy sou egter nooit die pad kon stap sonder die mense in haar lewe nie.
"Ek wil elke borg op Laingsburg en Oudtshoorn bedank vir alles waarmee julle help.
As dit nie vir julle was nie sou ek nooit sover gekom het met die kompetisie nie."
Bennedette Landman tydens haar uitreike op Laingsburg. Foto's verskaf
Verwante artikel: Oudtshoorniet op pad na mev. Heelal
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'