Maboneng is 'n jaarlikse kunstefees wat uniek is in die sin dat townships in kunsmekka's omskep word.
Shahieda Jansen (30) en Samantha Oormeyer (18) van Oudtshoorn en die plaas Nooitgedacht, het 'n werksessie aangebied waar jongmense van Gugulethu geleer is om volstruise met politeen te maak, en dan daarmee op te tree. Hulle het self verlede jaar as deel van 'n ontwikkelingsprojek van die Absa KKNK by die meester poppemaker, Roger Titley, geleer hoe om dié groter as lewensgroot poppe te maak.
Shahieda sê die mense van Gugulethu het hulself gate uit geniet met die volstruise. "Ons het hulle verskeie tegnieke geleer om die volstruise te manipuleer, maar hulle was net geïnteres-seerd in die danspassies," sê Jansen. Die volstruise het onder begeleiding van 'n musiekgroep van Dysselsdorp 'gedans'.
Jansen sê verder sy wens daar is meer geleenthede om die volstruise aan die buitewêreld bloot te stel en om mense die kunsies te leer. "Ek en Samantha wil die Absa KKNK en Roger Titley bedank omdat hulle dit vir ons moontlik gemaak het om die vaardighede aan te leer."
Titley sê op sy beurt Jansen en Oormeyer verdien die geleentheid om hul vaardighede wyer uit te stal. "As hulle die regte geleenthede kry, kan hulle dit vêr bring, want hulle het natuurlike talent."
Siphiwe Ngwenya, organiseerder van Maboneng, sê Jansen en Oormeyer tesame met die volstruise, het waarde tot die fees toegevoeg. "Dit was goed om die township met die Karoo te vermeng en die feesgangers het dit geniet."
Die volstruise wat hier tydens verlede jaar se Absa KKNK water drink het die afgelope naweek in die strate van Gugulethu gedans. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutse Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'