OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het die week gesê dat hulle in die proses is om 'n nuwe skut te bou.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit, sal die nuwe skut die huidige skut vervang wat tans by die suiweringswerke van die munisipaliteit geleë is.
Die munisipaliteit het reeds 'n paar jaar gelede gehoor dat die skut nie by die suiweringswerke geleë mag wees nie. Die voorgestelde projek sal verskeie strukture insluit wat gebruik sal word vir administrasie, veiligheid en huisvesting van diere.
Volgens haar het hulle nuwe eiendom gekry en is die munisipaliteit in die proses om 'n 20 jaar huurkontrak, teen 'n minimale fooi, met die boer aan wie die grond behoort, op te stel.
"Nadat die kontrak onderteken is, sal hierdie terrein slegs as 'n munisipale skut gebruik word en privaat organisasies sal nie toegelaat word om dit as 'n diereskuiling te gebruik nie. Volgens die munisipale verordening wat met die skut van diere verband hou, mag die munisipaliteit 'n skut op enige gerieflike plek binne sy regsgebied vestig, met die verstandhouding dat die munisipaliteit 'n dienslewerings-ooreenkoms kan aangaan met 'n instansie of persoon om voorsiening te maak vir die stigting en bedryf van 'n skut om sy jurisdiksie gebied te bedien."
Tydens 'n raadsvergadering in Oktober 2022 het die raad eenparig besluit dat die skut van die welsynsinstellings geskei word en om goeie verhoudings met die welsynsorganisasie te behou.
"Daar is ook tot die gevolg-trekking gekom dat die welsyns-organisasies kennis gegee word om die perseel te ontruim. Tans is daar nog diere in die skut van die organisasies, maar die munisipaliteit het die uitsettingskennisgewing wat op 31 Julie 2023 aan hulle uitgereik is, verleng."
Mle sê verder dat die munisipaliteit 'n skutmeester het wat verantwoordelik is vir die daaglikse administrasie en bedryf van die diereskut.
"Die skutmeester moet 'n skutregister byhou wat ten minste die datum van ontvangs van die dier, nommer en beskrywing van diere, merke op die dier, oorplaatjienommer wat deur die skutmeester toegeken is, naam en adres van die persoon wat beslag gelê het, bevat."
Om die diereskut by te staan, het wetstoepassers die gesag om enige dier wat verlate, verlore, verdwaal of oortree, te skut en na die munisipale diereskut te neem.
Twee tenders is ook gedurende hierdie twee maande geadverteer vir die verskaffing en aflewering van dierekos, asook 'n diensverskaffer om veeartsdienste aan die munisipale skut te lewer tot 30 Junie 2026.
"Die munisipaliteit verstaan dat die situasie by die skut uitdagend is, maar met al die maatreëls wat ingestel word, sal die situasie opgelos word sodat alle geskutte diere versigtig behandel kan word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’