OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het hierdie week gesê dat hulle poog om inwoners op hoogte te hou van die Groter Oudtshoorn se dienslewering deur eeklike opdaterings wat gedeel sal word.
Herstel van infrastruktuur
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het gesê die paaie en stormwater-departement, in samewerking met die waterdepartement, werk aktief daaraan om die Pauline Smith-kruising te herstel.
"Die doel is om 'n gladde en doeltreffende herstelproses te verseker. Een van die belangrikste uitdagings wat hulle aanpak, is die vervanging van ou en problematiese asbespype wat bly bars. Daarbenewens sal hulle die pad van die grond af regmaak om 'n langdurige oplossing te bied. Goeie weerstoestande is egter hiervoor nodig, en die paaie-afdeling sal verseker dat voorbereidings gedoen word en sal herstel word wanneer die weer en droë toestande dit toelaat."
Die paaie- en stormwaterafdeling, saam met gemeenskapsdienste, verbeter infrastruktuur deur Parkweg, Jan van Riebeckweg, Buitekantstraat, Pringlestraat en Vredestraat te herstel.
Slaggate herstel
Mle sê verder die munisipaliteit spreek die slaggate in die Groter Oudtshoorn aan deur herstelwerk te doen soos die weer dit toelaat.
"Die slaggatherstelinisiatief, hoewel tydelik, het ten doel gehad om onmiddellike probleme te verlig, wat die munisipaliteit in staat sal stel om mettertyd alle slaggate professioneel reg te maak. ’n Langtermynstrategie vir slaggatherstelwerk behels die beoordeling van padtoestande, die gebruik van toepaslike materiaal en die gebruik van gekwalifiseerde personeel om effektiewe en duursame slaggatherstelwerk regoor die munisipaliteit se padnetwerk te verseker."
Padseëling
Volgens haar sien die munisipaliteit daarna uit om die komende somerseisoen verskeie padinstandhoudingsprojekte te begin.
"Onder hierdie projekte is flodderseël, spaander en sproei, en rehabilitasie. Alles is daarop gemik om die paaie se optimale toestand te verseker. Een van die sleutelinisiatiewe is 'n omvattende padseëlprogram, wat oor die volgende drie jaar en daarna uitgevoer sal word. Hierdie program sal 'n belangrike rol speel in die voortdurende pogings om die padinfrastruktuur binne die munisipaliteit te rehabiliteer en te verbeter."
Om effektiewe prioritisering van die paaie wat verseël moet word te verseker, sal deeglike assesserings gedoen word. Die prioriteitslys sal gereeld op 'n jaarlikse basis bygewerk word om veranderende behoeftes en ontwikkelings te akkommodeer.
Sy sê die munisipaliteit is oor die algemeen daartoe verbind om padinstandhouding 'n deurlopende en proaktiewe proses te maak, wat daarna streef om die veiligheid en gerief van die gemeenskap se vervoernetwerk te verbeter.
Lees meer in Donderdag se uitgawe van die Oudtshoorn Courant
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’