Update
OUDTSHOORN NUUS - Met die Raubenheimerdam op slegs 30%, verwagte buitengewone hoë temperature en ondergemiddelde reën vir die volgende ses maande staar Oudtshoorn en die omgewing 'n waterkrisis in die gesig.
Dit het die stadsraad genoop om Woensdag tydens 'n spesiale raadsvergadering eenparig te besluit om aansoek te doen om die Groter Oudtshoorn tot droogterampgebied te verklaar.
Gerhard Otto, hoof van Eden-rampbestuur, het tydens 'n voorlegging aan die raad 'n donker prentjie geskets en sy kommer uitgespreek dat Oudtshoorn glad nie 'n "Plan B vir droogte" het nie.
"Munisipaliteite soos Knysna en George het planne in plek, maar dit is vir my kommerwekkend dat Oudtshoorn tot nou nie een gehad het nie." Hy het gesê hy is bly dat daar nou indringend na maatreëls gekyk word en dat 'n droogtekomitee op die been gebring is. Ingenieurs van die Wes-Kaapse regering het ook die vergadering bygewoon en insette gelewer.
Volgens Otto het Oudtshoorn nog water vir ongeveer 100 dae, maar amptenare van die munisipaliteit het gesê as mense omsigtig met water te werk gaan en besparingsmaatreëls streng nagekom word, is daar water vir ongeveer 160 dae indien dit nie intussen reën nie. Daar moet ook in gedagte gehou word dat die onderste gedeelte van die 30% in die Raubenheimerdam sogenaamde 'dooie water' is, wat nie gebruik kan word nie.
Colan Sylvester, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn en Allen Paulse, munisipale bestuurder, het na afloop van die vergadering die media te woord gestaan. "Ons wil nie paniek saai deur terme soos 'Dag Zero' te gebruik nie, maar dit is uiters belangrik dat elke inwoner besef ons het waternood en dat elkeen 'n verantwoordelikheid om die dorp en sy omliggende gebiede deur die krisis te dra.
Die munisipaliteit se droogteplan is gister aan die media voorgelê. Tydens die sessie was, van links: Johan Uys (hoof grootwaterwerke), Paul Muller (hoofbestuurder diviele ingenieursdienste), Allen Paulse (munisipale bestuurder), Colan Sylvester (uitvoerende burgemeester) en raadslid Johan Fourie (voorsitter van die tegniese komitee). Foto's: Hannes Visser
Volgens hom het die munisipaliteit reeds met rolspelers in die besigheids- sowel as die landbousektor vergader om die huidige situasie met hulle te deel. "Ons het ook met ons groot waterverbruikers soos die polisie, weermag en korrektiewe dienste gesels om toe te sien dat hulle water bespaar."
Volgens Sylvester het Gerhard Otto verlede week Oudtshoorn se situasie aan die Wes-Kaapse taakspan vir droogte voorgelê. "Die fokus van dié taakspan het nou na Oudtshoorn verskuif, veral na aanleiding van die weerkantoor se voorspelling vir die volgende ses maande."
Tydens die mediakonferensie het Sylvester gesê dat die provinsie sowel as Eden-distriksmunisipaliteit hulself daartoe verbind het om Oudtshoorn by te staan. Dit blyk dat geldelike steun ook deur die provinsie gegee sal word.
Een van die projekte wat met die geld aangepak sal word is om 'n tydelike pyplyn vanaf die Blossomsboorgate na die Raubenheimerdam te lê.
Die munisipaliteit het ook 'n droogtekomitee saamgestel om die kwessie te hanteer.
Volgens Sylvester word die volgende stappe in plek gesit:
- 'n Plaaslike droogtenoodtoestand is aangekondig
- Samewerking met Eden-distrikmunisipaliteit en die provinsie
- Die stigting van 'n noodkomitee
- Duidelike en deursigtige kommunikasie met alle inwoners en rolspelers
- Ontplooiing van wetstoepassers om verordeninge ten opsigte van waterbeperkings toe te pas
- Spesiale fokus op herstel van lekkende krane en pype
- Werksessies vir alle raadslede ten opsigte van die droogtebestuursplan, risikobestuur en kommunikasiestrategie.
Volgens Paulse bly die huidige waterbeperkings onveranderd, maar indien die damvlak onder 30% daal sal die beperkings aangepas word. Alhoewel waterbeperkings noodsaaklik is, het dit weer op finansiële vlak 'n negatiewe uitwerking op die munisipaliteit aangesien die munisipaliteit se inkomste uit water drasties afneem.
Beide die burgemeester en munisipale bestuurder het 'n beroep op inwoners gedoen om water oordeelkundig te gebruik, gryswater op te vang en te hergebruik vir plante en toilette en om enige lekkasies onmiddellik aan te meld.
Lees 'n vorige artikel hier: Dreig dag zero vir Oudtshoorn?
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'