OUDTSHOORN NUUS - Die span van Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) het Dinsdagaand die amptelike bekendstelling van hul liefdadigheidsorganisasie gehad.
David Strauss het sy asemrowende huis vir die geleentheid oopgestel en Morkel Mulder was die seremoniemeester.
"ODIN het baie insamelingsgeleenthede aangebied, maar vanaand is dit 'n spesiale geleentheid om die groep mense aan al die borge en ondersteuners bekend te stel. Dit is ook om die vordering tot waar hulle vandag is, te vier," het Mulder gesê.
Volgens Colleen Smith, die stigter van ODIN, sal hulle van volgende jaar af onafhanklik funksioneer.
"Ons is bykans twee jaar deel van die dierewelsyn in Oudtshoorn en het by die munisipale skut gehelp. Ons gaan egter nou op ons eie funksioneer en gaan ook ons eie perseel hê."
Volgens haar gaan die Diere-beskermingsvereniging, wat in 2018 die skut in Oudtshoorn gaan oorneem, fokus op die skut van diere terwyl ODIN fokus daarop om troeteldiereienaars op te voed oor hoe om reg na hul eie diere om te sien.
"Ons fokus ook sterk op die aanteel van diere. Mense soek 'n gesonde 'jaart'-hond wat hulself en die erf kan beskerm, maar omdat baie mense soms oningelig is oor hoe om reg na diere te kyk soek hulle elke keer nuwe babahondjies.
"Dit is deel van hoekom mense teel. Ons probeer hulle ook leer om hulle honde te dip en te laat steriliseer."
Volgens Smith beplan hulle om 'n koffiewinkel, 'doggy-crèche', dierehotel waar diere kan oorbly as hul eienaars met vakansie gaan en 'n tweedehandse klerewinkel op die perseel te hê.
Morkel Mulder wat saam met David Strauss die aand help reël het.
"Al ons planne behoort teen April 2018 'n realiteit te word." Volgens haar is die bekendstellingsfunksie ook aangebied om die gemeenskap en al hul borge te bedank.
"As dit nie vir die gemeenskap was nie sou ons nooit die werk kon doen wat ons nou doen nie. Ons sien uit daarna om in die toekoms weer saam met elke ODIN-ondersteuner te werk."
Colleen Smith, heel regs, by die span van Oudtshoorn Dogs in Need tydens die bekendstelling.
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'