OUDTSHOORN NUUS - "Mense vergelyk enkele aspekte van die dorp se dienste met ander dorpe en maak dan uitsprake dat Oudtshoorn 'n duur plek is, en dit is nie so nie."
Dit was deel van Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester, se gesprek met die media Maandagmiddag na afloop van die raadsvergadering.
Oudtshoorn se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en die begroting is tydens die vergadering goedgekeur.
Die goedkeuring van die begroting is die afgelope twee maande voorafgegaan deur 15 geleenthede vir openbare deelname waar inwoners vrae kon stel en voorstelle maak. Die koste van dienste in Oudtshoorn was een van die kwessies wat gereeld opgeduik het.
"Ons is baie dankbaar vir al die mense wat die sessies bygewoon het, briewe geskryf het en petisies geteken het, want dit gee ons 'n aanduiding van mense se kwellinge en wanpersepsies, maar dit bring ook oplossings," het Macpherson gesê.
Wat die kwessie oor dienste betref het hy gesê mense moet die geheelbeeld van al die dorpe in die omgewing neem en daarvolgens 'n vergelyking maak. Hy het 'n tabel verskaf wat Oudtshoorn se totale prentjie met die van George, Mosselbaai, Knysna, Bitou en Hessequa vergelyk.
Die volgende feite het na vore gekom en daarvolgens is dit slegs Mosselbaai waar dienste effens goedkoper as Oudtshoorn is, maar om dit in perspektief te stel moet daar na die volle prentjie gekyk word, sê Macpherson.
- Oudtshoorn het die kleinste waardasie basis, ver onder die gemiddelde waardasie basis van R 30,55 miljard.
- Oudtshoorn se gemiddelde eiendomswaarde beloop R 490 897 in vergelyking met Mosselbaai se R 962 225.
- Oudtshoorn ontvang die minste geld vanaf die nasionale regering in vergelyking met Bitou wat aansienlik minder geregistreerde deernis eiendomme het, en waar die bevolking ook heelwat laer is.
- Oudtshoorn se basiese heffing op elektrisiteit is aansienlik minder as die van Mosselbaai.
- Oudtshoorn se waterglyskaaltarief van 7 tot15kl is R9.03, in vergelyking met George se glyskaaltarief (6-15kl) van R17.67.
- Oudtshoorn se jaarlikse inkomste uit eiendomsbelasting is R104 miljoen wat baie ver onder die streekgemiddeld van R187 miljoen per jaar is. Mosselbaai se inkomste uit eiendomsbelasting is byvoorbeeld R167 miljoen per jaar.
'n Vergelyking van gemiddelde maandelikse munisipale rekeninge van die verskillende dorpe lyk so:
- Mosselbaai 3 687,34 (Bevolking 104 375)
- Oudtshoorn 3 759,81 (Bevolking 91 160)
- Hessequa 3 865,21 (Bevolking 54 237)George 4 273,96 (Bevolking 212 120)
- Bitou 4 286,64 (Bevolking 59 157)
- Knysna 4 690,73 (Bevolking 78 001)
Nog 'n belangrike faktor wat in ag geneem word, sê Macpherson, is die waarde van elke dorp se belastingbasis. Oudtshoorn se belastingbasis van R10,38 miljard is byvoorbeeld meer as vier keer kleiner as Mosselbaai s'n van R45,16 miljard.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'