OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn word tans bestempel as ‘n suksesverhaal wat munisipale-finansiële herstel betref. Dit was die boodskap wat Attie van Zyl, HUB van Inca Portfolio Management gisteraand tydens ‘n onthaal met ministers asook vanoggend tydens ‘n sessie met sakemanne van die dorp gedeel het.
Inca is in 2016, nadat Oudtshoorn onder administrasie geplaas is, aangestel om ‘n finansiële omkeerstrategie in samewerking met die munisipaliteit te ontwikkel.
Hy het by die twee geleenthede Oudtshoorn se munispale bestuurder, Allen Paulse en Felix Lötter, finansiële direkteur, gelukgewens met die reusetaak wat hulle reeds verrig het.
Volgens Van Zyl het hulle aanvanklik bereken dat dit Oudtshoorn drie tot vier jaar gaan neem om die reuseskuldlas wat die raad in 2015 gehad het, af te betaal en ‘n positiewe bankbalans te hê.
“Die munispaliteit het egter, met streng bestuur, daarin geslaag om binne slegs twee jaar R110 miljoen se skuld aan diensverskaffers sowel as R54 miljoen skuld aan Eskom terug te betaal. Hulle het nie net die skuld terugbetaal nie, maar ook daarin geslaag om kontant van ongeveer R70 miljoen in die bank te kry,” het hy gesê.
Volgens Van Zyl gebruik hy Oudtshoorn as ‘n voorbeeld van wat in ‘n munispaliteit gedoen kan word as die politieke wil, sterk leierskap en verantwoordelike bestuur daar is.
Paulse het op sy beurt gesê dat Oudtshoorn nog groot uitdagings in die gesig staar, maar dat die situasie besig is om drasties te verbeter.
Sakemanne het vanoggend te kenne gegee dat hulle, nadat die nuutste inligting voorgehou is, weer vertroue het om in die dorp te belê en ook mense van buite sal aanmoedig om te belê.
Felix Lötter, Allen Paulse, raadslid George Kersop, Attie van Zyl en sy kollega, Charl Bouwer van Inca tydens vanoggend se voorlegging aan Sakemense.
Foto’s: Hannes Visser
Van Zyl het gesê dit is nou uiters belangrik dat die breër gemeenskap van Oudtshoorn en die sakegemeenskap ‘n positiewe boodskap van die dorp uitdra wat kan bydra tot ekonomiese groei.
Die aanbiedings van Inca was deel van ‘n program wat gistergoggend by die Kangogrotte begin het om die sukses van die afgelope twee jaar se ingryping, met rolspelers te deel.
Vier Wes-Kaapse ministers, te wete Ivan Meyer, Anton Bredell, Donald Grant en Anroux Marais was gister by die grotte terwyl Bredell en Marais ‘n dinee gisteraand bygewoon het waartydens mense wat ‘n rol in die ommekeer van die dorp gespeel het, en steeds speel, bedank is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'