OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se bates sal nie geprivatiseer word nie en gerugte wat tans die ronde doen dat die munisipaliteit dit gaan verkoop is ongegrond.
Dit is die boodskap wat Oudtshoorn-burgemeester, Chris Mcpherson, aan die gemeenskap wil oordra.
Die gerugte is die afgelope tyd op sosiale media versprei na verklarings uitgereik is dat die munisipaliteit beleggers soek om in bates soos die Bridgton-chalets, Kango-bergoord en die Kango-grotte te belê.
Oudtshoorn Courant het die week met die burgemeester gesels en, volgens hom, het sekere lede 'n totale wanpersepsie van wat die munisipaliteit probeer doen en rig hulle die dorp se toerisme en beeld skade aan deur die gerugte te versprei.
"Ons het 'n visie vir die dorp, maar vir die visie om te realiseer het ons geld nodig om dit te doen.
"Die munisipaliteit het nie die nodige finansies om die bates, wat vir ons dorp 'n reusehupstoot kan gee, te onderhou nie. Die idee is om beleggers te kry om vir ons die bates te bestuur. Nie vir hulle om dit te koop nie. Met die geld wat ons daaruit maak kan ons dan onder meer beter dienste aan die dorp lewer, byvoorbeeld om die paaie reg te maak."
Volgens Mcpherson is enigiemand welkom om in die bates te belê indien hulle fondse daarvoor het.
Mcpherson sê dat Oudtshoorn die potensiaal het om 'n toerisme-mekka in die Karoo te word.
"Ons het die plek om uit te brei. Ons het ook die bates om uit te brei en dit is presies wat ons probeer doen."
Mcpherson het ook verder gesê dat in die grotte se geval daar gepraat word van 'n herstelplan en omdraaistrategie omdat die grotte, veral weens Covid-19, finansieel swaar trek.
"Die gebou moet byvoorbeeld herstel word en daarvoor is finansies nodig. Die munisipaliteit kry as gevolg van Covid-19 nie die fondse wat hul voorheen van die regering af gekry het nie.
"Ons het onlangs self die badkamers opgradeer, maar daar is nog baie werk wat gedoen moet word. Ons het ook nuwe planne om meer plaaslike toeriste na die grotte te lok. Ons wil byvoorbeeld weer funksies by die grotte aanbied om 'n groter inkomste te verseker."
Volgens 'n verslag wat deur die onderburgemeester, Gevan Juthe, voorgelê is, het die Bridgton-chalets van 2017 tot 2020 'n verlies van R1,4 miljoen gehad.
"Die infrastruktuur is in 'n uiters slegte toestand en funksioneer nie soos dit moet nie.
"Die bedryfskoste van die chalets beloop R1,8 miljoen per jaar. Dit is ook dieselfde geval by die bergoord."
Volgens die burgemeester word die gemeenskap se insae oor die kwessies gevra en sal 'n advertensie hieroor spoedig geplaas word.
"Ons wil dit ook duidelik maak dat niemand hulle werk gaan verloor nie. Indien iemand die bestuur van die oorde sou oorneem sal hulle of deur die nuwe bestuurders in diens geneem word of in ander departemente van die munisipaliteit geplaas word."
Die munisipaliteit is ook van plan om die Xhosa Village in Bongolethu te kommersialiseer.
"Ons gaan ook nie dié perseel verkoop nie. Dit sal of vir behuising gebruik word of vir 'n ander vorm van nuwe ontwikkeling. Nuwe werksgeleenthede sal hierdeur vir die gemeenskap geskep word."
Die Xhosa Village was ook voorheen 'n toerisme-trekpleister, maar is oor die jare afgeskeep, gevandaliseer en het later afgebrand.
Bridgton-chalets
Kango-bergoord
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'