OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn ACVV-tak is Vrydag met hul 100ste bestaansjaar geloof vir hul onbaatsugtige diens.
Die vieringe het die oggend met sang, volksdanse en 'n straatmars deur inwoners van Oudtshoorn se ACVV-tehuise, asook familie, personeel en vriende, begin.
Vrydagaand was die Wes-Kaapse minister van finansies, dr. Ivan Meyer, die eregas tydens 'n ACVV-glansfunksie in die banketsaal. Hy was vol lof vir die werknemers en bestuurslede by die plaaslike ACVV-tak. Meyer het aan die gaste gesê maaskaplike werk is uitdagend en nie maklik nie.
Oor die plaaslike tak het Meyer gesê: "Hierdie tak het die Anglo-boereoorlog, die eerste wêreldoorlog en die 1918 Spaanse griepepidemie oorleef. Hulle het pyn, lyding, bitterheid, moedeloosheid en broosheid oorleef.
"Vandag gee ons te maklik op."
Inwoners van Oudtshoorn se tehuise vir bejaardes het in rolstoele en selfs 'n bed in die feesvieringe gedeel.
Hy het die dienende voorsitter, Diane de Jager en haar voorganger, Rosie Schoeman, geloof vir hulle werk.
"Die Duitsers vertel, as jy pyn deel, halfeer jy pyn. As jy vreugde deel, verdubbel jy vreugde."
"Hierdie vrouens dien op komitees. Hulle sit nie op komitees nie. Kyk hoe lyk hulle wat in die in die Parlement net sít."
Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester het gesê: "Julle het die stem geraak van die wat nie kan praat nie. Julle is die hand van die wat nie kan vat nie. Daar kan nie 'n waarde geskat word aan die werk wat julle doen nie."
Die gaskunstenaar, Stephnie le Roux, het voor haar sangitems, gevra: "Wat is 'n huis sonder 'n moeder? wat is Oudtshoorn sonder die ACVV?"
Lees 'n vorige artikel: ACVV vier fees in Oudtshoorn
ARTIKEL EN FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'