Update
DYSSELSDORP NUUS - Die verhoor van die twee voormalige polisiebeamptes van Dysselsdorp wat van moord aangekla word, is Maandag na die getuienis van nog 'n voormalige kollega tot Julie uitgestel.
Sersant Jessica Wentzel het gister getuig dat sy by die Dysselsdorp-gemeenskapsentrum was toe die twee beskuldigdes, Dawid Voster en Daniel Lingerveld, die aand van 13 Januarie 2012 met die oorledene, Frank Links, daar aangekom het.
Sy het gesien hoe Lingerveld vir Links met 'n tuinslang natspuit en hom later ook met die vuis in die gesig slaan waarna hy "half inmekaargesak" het. Sy het toe gesien hoe die oorledene deur konstabels Prins, August en Lingerveldt die aanklagkantoor binne gedra is.
Op 'n vraag van die landdros of sy dink dit was nodig vir Lingerveld om die oorlede in die gesig te slaan was haar antwoord: "Ek dink dit was al uitweg om die man tot bedaring te bring omdat hy baie oproerig was." Volgens die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, sal hulle getuig dat sy nie op die toneel was nie en nie die waarheid praat nie. Daar is ook nie 'n inskrywing hieroor in haar sakboekie nie.
Die beskuldigdes sal ook getuig dat die oorledene vir Lingerveld twee keer in die gesig geslaan het, maar dit word ook deur Wentzel ontken.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is vir verdere verhoor tot 10 en weer 12 Julie uitgestel.
Lees vorige artikels hier:
- Verhoor teen oudpoliselede steeds in hof
- Oud-polisiemanne pleit onskuldig op moordklag
- Polisiebeamptes se moordsaak volgende week voor
- Moordsaak teen polisiebeamptes uitgestel
- 2 Polisiebeamptes in hof vir moord
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'