OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van twee voormalige polisiebeamptes van Dysselsdorp wat van moord aangekla word, het uiteindelik weer in die Oudtshoorn-streekhof begin.
Dawid Voster (40) en die Daniel Lingerveld (34) word daarvan aangekla dat hulle meer as vyf jaar gelede, op Vrydag 13 Januarie 2013, vir Frank Links met die vuiste geslaan en geskop het, en dat hy aan sy beserings beswyk het.
Die verhoor is verlede jaar weens die siekte van die voorsittende beampte, streeklanddros Mark van Wynghaardt, verskeie kere uitgestel en in November na sy dood as nuwe saak op die hofrol geplaas.
Links is die betrokke dag glo vir oproerige gedrag ge-arresteer. Die twee beskuldigdes het Dinsdag onskuldig gepleit en voer in 'n pleitverduideliking wat deur hul regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, aan die hof voorgelees is, aan dat Links hom verset het teen arrestasie. Hulle was saam met drie ander lede van die SAPD by Links se woning. Die oorledene was glo sterk onder die invloed van drank of ander middels en baie aggressief. Pepersproei is gebruik om hom tot bedaring te bring.
Hy het probeer weghardloop, oor 'n draad gespring en toe met sy kop op 'n klip geval. Hy het 'n onbekende man asook polisiebeamptes met 'n mes aangeval en later ook sy kop teen 'n deur gestamp. Volgens hulle was dit die oorsaak van sy dood en ontken dat hulle wederregtelik of opsetlik vir Links gedood het.
Daar is niks van hul aksies wat tot die dood van Links kon lei nie, lui hul pleitverduideliking.
Die eerste staatsgetuie, Rosaline Dam (50), het Woensdag getuig dat sy die betrokke Vrydagaand buite die Dysselsdorp-polisiestasie gestaan het toe Voster en Lingerveld met 'n vangwa daar aangekom het. Hulle het Links uitgelaai en hom tot by 'n kraan geneem waar hulle hom met 'n tuinslang natgespuit het.
Volgens haar het Links "struikel-struikel" geloop en deur die twee beskuldigdes aan die skouers vasgehou.
Volgens haar het hy heeltemal normaal voorgekom.
Die verhoor duur voort.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'