DYSSELSDORP NUUS - Die verhoor van twee voormalige konstabels van Dysselsdorp wat van moord aangekla word, is na die getuienis van 'n forensiese patoloog vir verdere getuienis tot April uitgestel. Die voorval het reeds sewe jaar gelede plaasgevind.
Dawid Voster en Daniël Lingerveld word daarvan aangekla dat hulle die aand van 13 Januarie 2012 vir Frank Links sodanig aangerand het dat hy aan sy beserings beswyk het.
Ao. Daniël Nel, 'n voormalige kollega van die twee beskuldigdes, het verlede week getuig dat hy gesien het hoe Voster en Lingerveld vir Links in die Dysselsdorp-aanklagkantoor geskop en na 'n ander vertrek gedra het. Volgens hom was Links toe reeds bewusteloos. Hy het self met sy skoen teen Links se skouer getik en gesien dat hy nie roer nie.
Volgens die patoloog wat die nadoodse ondersoek op Links gedoen het, was daar egter nie sigbare beserings aan sy kop nie.
Nel het getuig dat hy die betrokke dag saam met Voster na 'n woning in Ruiterstraat, Dysselsdorp, gegaan het om 'n klagte van oproerige gedrag te gaan ondersoek.
Lingerveld en konst. Eugene Pretorius was toe reeds op die toneel, Links was met 'n mes gewapen en het probeer weggehardloop. Hy het gesien hoedat Voster hom agternasit en later met pepersproei in die gesig spuit.
Volgens Nel het Links ook twee keer na hom (Nel) gesteek en dat die pepersproei nie juis enige uitwerking op die oorledene gehad het nie.
Links was glo baie aggressief en het oor 'n heining geval toe hy wou vlug.
Konst. Pretorius, wat intussen oorlede is, het twee skote afgevuur om Links af te skrik en hulle het later daarin geslaag om hom in die vangwa te kry.
Volgens hom het Links nie op die toneel beserings opgedoen nie behalwe 'n paar skaafmerke van die val oor die heining.
Terug by die aanklagkantoor het hy Links op die vloer voor die toonbank sien lê met Lingerveld ook daar. Toe Voster die kantoor binne kom het hy Links teen die agterkop geskop. "Dit was 'n harde hou," het hy getuig.
Die beskuldigdes se regsverteen-woordiger, Christo van der Bergh, het dit aan Nel gestel dat Nel 'n storie opmaak en 'n ander polisieman, konst. April wat deel van die aanranding was, asook sy vriendin, sers. Jesica Wentzel, probeer beskerm. Hy het byvoorbeeld nie in sy hoofgetuienis gesê dat hy Links met sy skoen geraak het nie omdat dit, volgens Van der Bergh, 'n slegte indruk sou skep.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak tot 8 April uitgestel omdat nog 'n staatsgetuie, ook 'n polisiebeampte, wat verlede week sou getuig, tans op kursus is.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'