OUDTSHOORN NUUS - Patricia Wicomb (69) was 'n formidabele vrou wat omgegee het vir die oues van dae en wie se ja haar ja en haar nee, nee was.
So het biskop Trevor Stevens van die Nuwe Apostoliese Kerk dié oud-departementshoof van die Hoërskool Môrester, Saterdag tydens haar roudiens beskryf.
Sy is op Vrydag 25 Mei na 'n lang siekbed in die hospitaal oorlede.
Sy het in 1958 saam met haar ouers, suster en broers vanaf Kimberley na Oudtshoorn gekom nadat haar pa deur biskop Hollander van die Nuwe Apostoliese Kerk gevra is om die kerk op Oudtshoorn te vestig. Sy het by St. Simons begin skoolgaan en aan die Hoërskool Môrester gematrikuleer.
In 1967 het sy haar onderwysdiploma verwerf waarna sy in Oos-Londen, Grassy Park en op Wynandsrivier skoolgehou het voordat sy haar aan die Zonnebloem Kollege as LO-onderwyseres bekwaam het.
Met haar terugkeer na Oudtshoorn was sy LO-onderwyseres by Môrester voordat sy vir nog 'n jaar se studies terug is na die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland.
Sy het in1993 die tuig as Engels departe-ments-hoof neergelê en word oorleef deur haar eggenoot, Maurice, 'n broer, Graham, twee kinders, Bertha en Quien, drie kleinkinders en een agterkleinkind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'