Gallery Video
DE RUST NUUS EN VIDEO'S - 'n Gebou wat deur 'n vrou van Blomnek as 'n sopkombuis gebruik word, het Saterdag 'n kleurvolle baadjie aangetrek danksy 'n span vrywilligers en kinders met verf en kwaste.
Die projek is deur vrywilligers van Youpsa (Youth Potential South Africa) en Flowers for Africa gelei.
Kinders tussen die ouderdom van 7 en 12 het eers die gebou se mure pers geverf en daarna hulle eie ontwerpe op die muur geteken en geverf.
Die vorige dag is die vooraansig van 'n kleuterskool in Nelsrivier ook vol helder blomme geverf. 'n Inwoner van Blomnek, Frederika Booysen, het die gebou wat dekades gelede skynbaar as 'n lykshuis gebruik is en lank leeggestaan het, as 'n sopkombuis ingerig. Sy en haar man voorsien drie keer 'n week kos aan ongeveer 30 kinders van die omgewing.
FOTOGALERY: Kinders verf kleurvolle sopkombuis
"Ek is verheug oor die verandering wat die kinders se kunswerke aan die gebou gemaak het. Nou weet almal die pers gebou is die sopkombuis," het sy Saterdag gesê. Volgens haar kry hulle tans geen skenkings of geldelike bydraes vir die voorbereiding van die etes nie. "Ek het nie tans werk nie, maar my man het gelukkig 'n werk en uit sy inkomste koop ons bestanddele vir die etes, want hier is regtig kinders wat vir dae nie kos kry nie." Sy sê sy benodig groter potte en ander kombuistoebehore.
VIDEO: Kinders skep kleurvolle sopkombuis
VIDEO: Children paint colourful mural for soup kitchen
Alexis Salaman, direkteur van Youpsa het Saterdag gesê dit is hulle manier om kinders die geleentheid te gee om hulle omgewing mooier te maak, maar ook om hulle te laat besef dat hulle tot iets in staat is.
Mense of instansies wat by die sopkombuis betrokke wil raak kan Frederika by 062 409 9716 skakel.
Frederika Booysen gebruik die gebou as 'n sopkombuis waar sy etes vir ongeveer 30 kinders drie keer per week verskaf.
Kinders van Blomnek besig met sketse van blomme Saterdagoggend. Foto's: Hannes Visser en Tanya Watson
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'