OUDTSHOORN NUUS - Bekende skrywer en oud-onderwyser van Oudtshoorn, Oskar Prozesky, is op 26 Januarie oorlede.
Volgens Hilda Boshoff, oudwerknemer van die CP Nel-museum, het sy haar verwonder aan die werk wat hy verrig het.
Hy was die skrywer van ondermeer A History of the Boys' High in Oudtshoorn, 1881- 1962.
"Tussen 2013 tot die groot swaar boek in 2016 bekendgestel is, het hy eksemplare van Oudtshoorn Courant in die CP Nel-museum se argief van die begin in 1879 tot 1962 gefynkam om inligting te versamel.
Elke dag teen klokslag 10:00 tot 12:00 het hy nota's gemaak wat hy namiddae tuis verwerk het. Pligsgetrou, sistematies en vol afwagting vir wat die volgende dag sou oplewer, het hy kom werk."
Boshoff sê hy het tussendeur staaltjies uit sy kinder- en skooldae vertel.
"Met sy skerp waarnemings-vermoë, uitstekende geheue en humorsin het die twee ure omgevlieg."
"Die twee dorpe, Oudtshoorn en Graaff-Reinet, waar hy skoolgegaan en later skoolgegee het, het hom ná aan die hart gelê. Wat my verwonder het, was die byhou van 'n dagboek en die oortik van dagboeke uit sy verlede."
Hy was belese, het gedurig aan 'n nuwe boek gewerk en kwaai roskambriewe geskryf vir dié wat hom te nagekom het. Hy het geskiedenistydlyne opgestel vir sy eie plesier en om sy nuuskierigheid te bevredig.
"Boeke skryf is nie 'n lonende bedryf nie, maar hy sou sy passie bly uitleef en vasberade aanhou en het uiteindelik 'n dertigtal boeke gepubliseer. Die boek wat sy kunstenaarskap na my mening die beste bewys, is Grobbelaartjie van Veldskoendorp."
Boshoff sê Oskar was hoogs intelligent, talentvol en eksentriek en baie gesteld op goeie maniere. Hy het die moeilike pad gekies en die pad geloop tot op die einde.
"Die vader van Grobbelaartjie het ons vooruitgegaan, maar sy werke sal bly voortleef."
Lees meer op susterkoerant, Graaff-Reinet Advertiser.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'