Update
MOSSELBAAI | OUDTSHOORN NUUS - 'n Voetganger is dood en twee insittendes van 'n vragmotor ernstig beseer nadat 'n vragmotor op Woensdag 24 Junie vermoedelik eers die voetganger op die Robinsonpas doodgery en toe omgeslaan het.
Die omstandighede van die voorval word nog ondersoek en nooddienste was vir ure op die toneel naby Ruiterbos waar die vragmotor omstreek 06:30 die pad verlaat het.
Mossel Bay Advertiser-joernalis, Jannie du Plessis was op die toneel en het berig dat daar ‘n liggaam in die pad gevind is, ongeveer 250 meter van waar die vragmotor omgeslaan het.
Die passasier in die vragmotor, Frank Munemo, is deur nooddienste behandel en na ‘n plaaslike hospitaal geneem. Die bestuurder van die vragmotor, Raymond Chiwangira (39), 'n inwoner van Zimbabwe, was steeds in die vragmotor vasgekeer en is eers teen 09:55 uit die vragmotor gehaal nadat sy bene vasgepen was. Volgens 'n familielid is sy toestand egter stabiel.
Die pad was vir 'n geruime tyd vir verkeer gesluit asook later die dag toe die vragmotor weer op sy wiele staangemaak is.
Die moeder van Chiwangira het op die toneel aan die Advertiser bevestig dat die vragmotor vanaf Kimberley na Mosselbaai gereis het en voerbale vir diere vervoer.
Sy moeder het ook bevestig dat hulle op Mosselbaai woon. Die identiteit van die oorledene was teen die ter perse gaan nog nie bekend gemaak nie. Die polisie ondersoek die voorval.
VORIGE ARTIKELS:
- Vragmotor van ongelukstoneel verwyder
- Liggaam in pad waar vragmotor omgeslaan het
- Truck overturns in Robinson Pass
'Ons bring jou die nuuste Oudtshoorn, Mosselbaai nuus'