Die Toyota is kort na 19:00 in Jan van Riebeeckstraat gesteel. Die polisie was binne minute op die spoor van die gesteelde voertuig en een van die patrollievoertuie wat op die Mosselbaai-pad uitgejaag het om die pad te sluit, het op die ongelukstoneel afgekom. Die vermeende dief het uit die motor geval en in die veld langs die pad gelê waar die motor die heining platgerol het. Die verwronge wrak het sowat 30 meter verder tot stilstand gekom nadat dit verskeie kere gerol het.
Die verdagte het aan polisie gesê dat daar nog twee mense saam met hom in die motor was. Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel was die omliggende veld reeds met behulp van polisiehonde gefynkam, maar geen spoor van twee ander mense is gevind nie. Die honde kon ook geen reuke in die wrak kry wat daarop dui dat daar ander insittendes was nie. Die vermoede bestaan dat die verdagte moontlik verkeerde inligting aan polisie gegee het om trawante geleentheid te gun om weg te kom nadat 'n tweede motor min of meer dieselfde tyd in Buitekantstraat gesteel is.
Die tweede motor wat ook tussen 19:00 en 20:00 gesteel is was ook 'n Toyota Corolla (1988). Dié motor is teen gister nog nie opgespoor nie en geen ander verdagtes is gearresteer nie.
Die verdagte wat by die ongelukstoneel gearresteer is, is die 20-jarige Lucanda Wara. Hy het aanvanklik gesê dat hy van Mosselbaai afkomstig is, maar dit blyk dat hy dalk uit die Oos-Kaap kom. Hy het gister in die hof op Oudtshoorn verskyn en bly in aanhouding tot 'n volgende verskyning. Hy is na die ongeluk hospitaal toe geneem en behandel vir 'n sleutelbeenbesering waarna hy opgesluit is.
Die eienares van die verwoeste Toyota en haar dogter sit met hulle hande in die hare na die diefstal van die kar.
"Dit is al vervoermiddel wat ons het, ons is gestrand," het sy Dinsdag gesê. Sy vertel dat sy die motor nuut gekoop het en dat dit nog in 'n puik toestand was.
"Die versekering gaan nou die boekiewaarde uitbetaal en wat kan ek daarvoor koop? Ek is 'n pensioenaris ek het nie geld om weer so 'n netjiese kar te koop nie."
Die diefstal van die motor is die derde slag wat haar die afgelope tyd getref het. 'n Paar maande gelede het 'n besope bestuurder agter in haar motor vasgery en dit was net danksy die goeie toestand van die motor dat die versekeraars toe besluit het om dit te laat herstel eerder as om dit af te skryf. Kort daarna is haar seun ernstig in 'n motorfietsongeluk beseer en herstel nog van sy beserings. "Ek kan nie glo so baie goed kan met 'n mens in so 'n kort tydjie gebeur nie," het sy moedeloos opgemerk.
Die motor is Dinsdagaand uit die oprit van hulle huis gesteel minute nadat haar dogter buite was om te kyk waarom die honde blaf. Toe haar dogter vyf minute later weer uitgaan was die kar weg. Ma en dogter is vol lof vir die polisie se optrede. "Ek het 10111 gebel en hulle het dadelik geantwoord. Ek het skaars klaar gepraat toe hou die polisie by die huis stil. Mense kla oor die polisie, maar ek kan vir hulle sê die diens wat ons Maandagaand en vanoggend gekry het was uitstekend," het die dogter Dinsdag gesê.
Die gebiedsbevelvoerder van Oudtshoorn, brig. Aneeqah Jordaan, was Maandagaand self ook by die toneel waar die verdagte gearresteer is.
Die 20-jarige Lucanda Wara word in boeie na die ambulans geneem nadat hy uit die gesteelde motor geval het toe dit gerol het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'