Die speaker van Oudtshoorn, John Stoffels, het Maandagmiddag tydens 'n seremonie die kragtoevoer amptelik aangeskakel.
Die huise wat van koopkrag voorsien is, is die eerste fase van 'n projek om al die mense van Rose Valley van permanente behuising te voorsien.
Driehonderd tydelike sinkhuise is in 'n oorgangskamp opgerig waar gesinne nou woon terwyl hulle permanente huise gebou word. Dit is hierdie tydelike huise wat nou krag ontvang en na verwagting sal al 300 teen die einde van Januarie met krag toegerus wees.
Sodra die eerste permanente huise opgerig is sal gesinne wat tans in die sinkhuise woon kan intrek.
Die raadslid van Wyk 6, Veronica Williams, het 'n beroep op die munisipaliteit gedoen om voorkeur aan bejaardes en gestremdes te gee met die toekenning van huise. Nadat die eerste groep mense permanente huise ontvang het sal die volgende groep in die tydelike huise intrek totdat hulle huise gereed is.
Een van die sprekers het gesê hy is verheug om te sien dat meerderheid van Oudtshoorn se raadslede die geleentheid bygewoon het.
Tydens haar toespraak het raadslid Williams die mense daarop gewys dat 'n verantwoordelikheid om vir dienste te betaal deel vorm van die voorreg om 'n huis te kry.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
Groot opgewondenheid het Maandag in Rose Valley geheers toe hierdie tydelike huise van krag voorsien is.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'