Die ongeluk het ongeveer 16:30 in Vyfdelaan, reg langs Aurial Kollege in Bridgton gebeur. Volgens omstanders het die swart VW Golf en 'n bakkie glo resies gejaag.
Die Golf het buite beheer geraak, gerol, 'n kragpaal af gery, 'n boom getref en middeldeur geskeur. Die bestuurder en passasier is uit die wrak geslinger. Met die aankoms van die nooddienste het hulle ongeveer 15 m van die wrakstukke gelê. Op die ongelukstoneel het die twee dele van die motor ook verskeie meters van mekaar af tot stilstand gekom.
Beide insittendes is per ambulans hospitaal toe geneem en is as "rooi" (ernstig beseer) deur nooddienstepersoneel op die toneel bestempel. 'n Woordvoerder van die gesondheidsdienste, Nadia Ferreira het egter Vrydagoggend bevestig dat beide pasiënte dieselfde aand net na 22:00 ontslaan is. Volgens haar het die 30-jarige bestuurder slegs skaafwonde en 'n swelling aan sy gesig gehad. Die passasier is behandel vir 'n beseerde skouer, linkerarm en linkerbeen en opvolg X-strale sou Vrydag geneem word.
Ontstoke inwoners by die ongelukstoneel het vertel dat dié straat, wat parallel met die hoofpad na De Rust loop, dikwels gebruik word vir jaagtogte. "Ons het al jare gelede 'n petisie opgestel om te vra dat die munisipaliteit hobbels in die pad moet sit, maar hulle steur hulle mos nie aan ons nie. Dag en nag word hier gejaag" het Beverley Säfer, wat in Vyfdelaan woon, gesê.
Inwoners het verder hulle kommer uitgespreek oor die feit dat skoolkinders en werkers gereeld langs die straat stap en dat hulle dikwels op die grasperk, waar die wrakstukke beland het, sit. "Kyk hoe laat is dit nou, dis die tyd wat almal van die werk af kom, dan is hierdie pad besig," het 'n ontstelde inwoner bygevoeg.
_522691233_tn.jpg)
Nooddienspersoneel stabiliseer die passasier op die ongelukstoneel
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR