Danny Redelinghuys en sy vrou, Arina bedryf Spilhaus, `n spesialis-besproeiingsbesigheid op die hoek van Jacobson- en Poplarstraat.
Redelinghuys vertel dat probleme veroorsaak word deur mense wat die nabygeleë drankwinkel en kafee besoek en geen agting toon vir sy besigheid en kliënte nie. Groepe mense word glo dikwels oproerig.
Die besigheid is geleë langs `n hoofroete wat verskeie dorpsgebiede met mekaar verbind en waar mense in die skadu vir taxi's kan wag.
"Hoe kan `n mens kliënte by jou besigheid ontvang wanneer dit so gaan? Ek vrees ook elke dag vir my vrou se veiligheid. En ons moet sit en luister terwyl die mense die verskriklikste goed vir mekaar sê," het `n moedelose Redelinghuys gesê.
`n Stegie wat sy besigheid van die aangrensende winkel skei is met leë drankbottels en afvalkos besaai. Dit blyk dat die stegie ook vir ablusies gebruik word.
Redelinghuys vertel dat hy dit al oorweeg het om reg in eie hande te neem en die mense self te verjaag, maar hy besef dat daar dan nagevolge sal wees. Sy oproepe na die polisie val egter op dowe ore. "Wanneer ek bel sê hulle vir my dat daar baie ander problem is en dat hulle nie by my kan uitkom nie." Hy het ook reeds skade aan twee van sy voertuie gely: die ruit van een voertuig is gebreek en daaruit gesteel terwyl `n ander voertuig gekrap is.
Redelinghuys vertel ook dat hy met die dood gedreig is toe hy oproeriges buite sy besigheid stil gaan maak het.
Dit blyk ook dat die probleem geensins `n nuwe een is nie. Martin Nortje, die eienaar van Q-bolt wat verder af in Jacobsonstraat geleë is, vertel dat hy meer as `n jaar gelede sy besigheid moes verskuif vanaf die perseel wat tans deur Spihaus beset word, omdat hy dieselfde probleme ervaar het.
"Ek is so bly dat Danny die koerante genader het, dalk kan daar nou `n oplossing gevind word," het Nortje vertel. Nortje het Redelinghuys se vertellinge beaam.
Met Oudtshoorn Courant se besoek verlede Vrydag het `n persoon na aan die Poplarstraat ingang op die grond gelê en slaap. `n Groep mense het na aan die hoek teen die muur in die koelte gesit en naas hulle het `n man op die trappe van die Jacobsonstraat-ingang gesit en slaap.
Twee mans in die groep het gesê dat hulle wel bewus is van die eienaar se klagtes en dat hulle ook van "een of twee" persone bewus is wat dikwels moeilikheid maak. "Ja, hulle moenie so maak nie, dis verkeerd," het een van die mans wat met krukke oor die weg kom gesê.
Die eiendomsagent verantwoordelik vir die verhuring van die perseel, Hennie Davel, het aan Oudtshoorn Courant verduidelik dat polisie eintlik maar min aan sulke gevalle kan doen. Volgens Davel behoort die munisipale owerhede genader te word aangesien munisipale bywette in sulke gevalle afgedwing behoort te word.
By navraag het die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe die Oudtshoorn Courant bedank wat die saak onder hul aandag gebring het. Mangqwengqwe het gesê dat wetstoepassers die gebied voortaan gereeld sal patrolleer.
Hy het ook die eienaar van die besigheid, asook enigeen wat soortgelyke probleme ervaar gemaan om die radiobeheerkamer se nommer te skakel by 044 203 3121.
Dimic Muller (22) by `n onbekende, slapende man op die trappe van die besigheid se hoofingang. `n Houer vuurhoutjies in die man se hand kan beteken dat hy `n sigaret wou aansteek toe die moeg-heid hom skielik oorval het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'