Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee weermaglede van Gauteng wat tereg staan op 'n aanklag van poging tot moord op 'n polisiebeampte van Oudtshoorn, is Maandag na die slotvertoë van die staat en die verdediging in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak tot Oktober uitgestel.
Die twee beskuldigdes, Vincent Khoza van Soweto en Sasi Dludla van Heidelberg, Gauteng, word daarvan aangekla dat hulle 'n polisiekonstabel, Heinrich Strydom, die aand van 21 November 2009 in Voortrekkerweg aangerand het deur hom teen die kop te skop en te slaan.
Strydom was die aand van die voorval nie aan diens nie.
Albei pleit onskuldig en voer aan dat hulle hulself verdedig het toe ses of sewe mans hulle aangeval het terwyl hulle van 'n kuierplek in Voortrekkerweg na die militêrebasis op Oudts-hoorn onderweg was. Die beskuldigdes het 'n kursus daar bygewoon.
Die laaste staatsgetuie, dr. Wessel Vermeulen, 'n plaaslike geneesheer wat Strydom na die voorval behandel het, het getuig oor die ernstige beserings wat hy opgedoen het.
Volgens die dokter het Strydom lewensgevaarlike kopbeserings opgedoen en is sy lewe moontlik, danksy vinnige mediese behandeling, gered.
Hy was deurmekaar en sy klere en gesig vol bloed. Bloed het ook by sy ore uitgeloop en sy lippe was geswel.
Volgens die dokter is die beserings deur 'n stomp voorwerp soos 'n skoen, 'n klip, knie of vuishoue toegedien.
Hy het dadelik gereël dat Strydom na 'n hospitaal in George vir 'n skandering van die brein oorgeplaas word, omdat die nodige fasiliteite nie op Oudtshoorn beskikbaar is nie.
Die staatsaanklaer, Herman Steyn, het die hof Maandag versoek om Khoza en Dludla skuldig te bevind aan poging tot moord omdat dit nie selfverdediging kan wees wanneer jy 'n weerlose man wat op die grond lê teen die kop skop nie.
Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, vra egter vir hul vryspraak omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Die saak dien voor streeklanddros JH Breyl en is vir uitspraak tot 20 Oktober uitgestel.
Lees 'n vorige artikel: 2 Mans in hof vir poging tot moord
ARTIKEL: GARNETT WICOMB
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'