Die drie vroue saam is nie net tannies wat snaakse hoede en T-hemde dra nie.
Hulle neem eintlik die fees baie ernstig op. Dit is in die tyd wat hulle nie vertonings het nie en in die aande na al die vertonings wanneer die pret werklik begin.
"Ons hoede en T-hemde wat ons elke dag dra is vir ons sinoniem met die fees. Ons het al drie 'n vreeslike sin vir humor. En ons is nie so oud soos mense dink nie, ons is net nader aan 'n 100 jaar as wat ons aan een jaar oud is," vertel Lippies, wat al 20 feeste bygewoon het, met 'n skalkse lag. .
Die hoede-ding het 'n klomp feeste terug op 'n baie warm dag begin.
"Ons het besef ons gaan soos steenkool verbrand en het destyds by 'n ou tweedehandsewinkel verbygeloop en die hoede gekoop. Mettertyd het ons hulle versier en jaar na jaar kom daar nog 'n herinnering op die hoed by, of dit nou 'n veer of 'n blommetjie is, dit kom by."
Die T-hemde is sommer vir die snaaksheid en elke dag van die fees dra hulle elkeen dieselfde hemde.
"Die hemde en die hoede lok reaksie en ons vrek absoluut daaroor om interaktief met mense te werk. Ek noem dit sommer die intertafelfees. Ons ken nie noodwendig die mense nie, maar hulle voel oop en gemaklik om met ons te praat. Ons spot saam met die mense en probeer soveel pret saam met almal as wat moontlik is hê. So maak ons baie vriende en jy sal "
Om interaksie met die mense te vergemaklik gebruik Lippies speelgoed.
"Dit is baie terapeuties vir die mense. Al lag hulle net is dit klaar terapeuties. Ons het die eerste selfoon wat in die tweede jaar van die kunstefees gebore is. Ek loop na iemand toe en vra of sy luitoon twee kortes en 'n lange is. Dan lag die mense al klaar. Hulle antwoord die foon sommer dadelik en die gesprekke handel soms oor Trixi se spene of die vrou wat met haar man baklei oor gisteraand."
Die ander speelgoed is Lippies se groen fluitjielippe waarmee sy op die feesterrein loop en vir almal fluit wat verby haar loop, haar Leon Schuster-tande waarmee sy 'n breë glimlag met haar medemens deel en hul sieklike hoendertjie.
"Ons loop graag in vertonings in met die hoender en vertel die mense dat hy sieklik is. Hy moet 'n operasie ondergaan vir 'n foefenjol en ons samel geld in om hom te help. Baie mense het al gehelp en ons het al tannies gehad wat die hoendertjie styf teen hulle vasdruk en liefkoos omdat hulle die ou dingetjie jammer kry," vertel sy terwyl sy skaterlag.
Wanneer die drie terug is by die huis is Lippies 'n ivoorbewaarder (tandarts) in Bloemfontein, Koekie is 'n tuisteskepper in Stellenbosch en die enigste van die drie wat getroud is met twee seuns en Dr. E of te wel Didgeridoo is 'n afgetrede Afrikaanse onderwyseres van Centurion Hoërskool met 'n passie vir stap.
Oor die lewe is hulle baie uitgesproke.
"Lewe is elke dag 'n fees. Mense dink omdat ek en Lippies nie getroud is nie is ons of leeg of het 'n voller lewe omdat ons baie goed doen wat getroude mense nie doen nie, maar dis nie waar nie. Elke persoon se lewe is vol met dit wat hom gelukkig maak en al hoekom ek nooit getrou het nie is omdat niemand my gevra het nie," giggel Didgeridoo.
Koekie sê haar man ondersteun haar in alles wat sy doen en geniet elke oomblik saam met haar.
"Of ek nou op 'n tafel dans en stapelgek is, hy sal nooit vir my inperk en sê wat gaan die mense dink nie," sê sy.
Die fees gaan egter definitief oor die vertonings en hulle probeer soveel as moontlik vertonings in die week wat hulle hier is inwerk.
Hulle raad vir feesgangers is om nie net stalletjies te loop en te drink nie, maar ook by die vertonings uit te kom.
"Dit is immers waaroor die fees gaan. En moet tog nie net die show gaan kyk omdat jou gunsteling 7de Laan-karakter daarin speel nie. Lees waaroor die show gaan en maak seker jy weet of hy 'n ouderdomsbeperking het of nie. Partykeer vloek hulle regtig in die vertoning," sê Lippies.
Die ander ding wat sy feesgangers in die toekoms vra is om asseblief die baba by die huis te los as daar vertonings gekyk word.
"'n Selfoon wat afgaan is erg genoeg, maar dit kan jy stilmaak. 'n Baba is soos 'n lewendige selfoon, maar kan nie vibrate of op silent gesit word nie."
Die laaste ding is om alles wat jy doen te geniet.
"Gaan groot en moenie 'n ding halfpad los nie - of dit 'n vertoning of 'n bottel wyn is, maak dit klaar. Dalk verander jou persepsie oor die lewe bietjie."

Lippies Koekemoer (links), Koekie von Blik (middel) en Didgeridoo (Dr. E) deel die geheime van hul speelgoed waarmee hulle feesgangers op die feesterrein vermaak. Die telefoonstuk is die eerste selfoon wat eers in die tweede kunstefees uitgekom het. By hulle is die sieklike hoendertjie waarvoor hulle fondse insamel. Foto's: Liezl van Niekerk
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'