Dit was die hoofmomente van die raadsvergadering wat Dinsdagmiddag in Oudtshoorn plaasgevind het voordat die vorige onderburgemeester, Vlancio Donson, deur die speaker uitgegooi is.
Oudtshoorn was hierdie week saam met Nkandla weereens een van die nuuspunte wat landswyd deur media gedek is. Anders as Nkandla, weet niemand egter nog in hierdie stadium voor wie se deur die mense gaan skreeu 'pay back the money' nie.
Nadat die land Sondagaand op Carte Blanche gehoor het van Oudtshoorn se probleme en die omstrede waarnemende munisipale bestuurder in die spervuur was, is daar teen Dinsdag uiteindelik uitsluitsel gekry oor wat volgende moet gebeur.
'n Voorstel dat Oudtshoorn volgens artikel 139 (1b) van die grondwet onder administrasie geplaas moet word is Dinsdag in die raadsvergadering aanvaar. Die ANC en ICOSA raadslede het teen die voorstel gestem. Die ANC het intussen laat blyk dat hulle adminsitrasie ook goedkeur.
Volgens die burgemeester, Wessie van der Westhuizen en speaker Chris Macpherson het die kabinet reeds teen Woensdag die aansoek om administrasie en ondersteuning goedgekeur. "Die aansoek is nou aan minister Pravin Gordhan voorgelê wat dit op sy beurt voor die NRVP (Nasionale raad van provinsies) moet lê vir hulle goedkeuring," het Macpherson Woensdag gesê.
Hy het verduidelik dat goedkeuring nie 'n lang proses sal wees nie en dat die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, aangedui het dat hy graag die nodige stappe teen 7 Augustus wil bekendmaak. "Ons wag nou dat die minister aan ons die verwysingsraamwerk bekendmaak waarbinne die administrasie en ondersteuning sal plaasvind," sê Macpherson.
Die burgemeester, rdh Wessie van der Westhuizen, het op sy beurt gesê dat alles tans normaal voortgaan. "Ons is verkies in ons ampte om diens te lewer en dit is waarop ons nou fokus. Sodra die minister sy raamwerk en voorwaardes vir die ondersteuningspakket bekendmaak sal ons daarvolgens optree."
Die brief wat Van der Westhuizen verlede week glo verkeerdelik aan Bredell gestuur het waarin gevra is dat administrasie nie toegepas moet word nie, het hewige stryery in die raadsaal uitgelok toe die ANC die burgemeester gekonfronteer het omdat hy briewe teken sonder om homself van die inhoud te vergewis.
Die speaker het skaars orde begin gehandhaaf toe die volgende argumente uitgebreek het. Hierdie keer was die dringende hofaansoek wat deur die vorige burgemeester en onderburgemeester rdh Gordon April rn rdh Vlancio Donson gebring is, die twispunt. Donson en April het 'n dringende aansoek voor die hooggeregshof gebring dat hulle verwydering uit hul poste as onwettig verklaar moet word.
Hulle beroep hulle op 'n ooreenkoms wat die raadslede verlede jaar met regter Owen Rogers gesluit het dat die DA- en Cope raadslede wat in 'n hogeskil betrokke is nie mosies van wantroue mag bring nie. Die hewige debat het ontstaan nadat Van der Westhuizen voorgestel het dat die munisipale bestuurder stappe moet neem om die hofaansoek van die twee teen te staan.
In reaksie op 'n navraag wat aan Donson gestuur is het hy gister gesê dat die speaker sy mag gebruik om onwettige besluite deur te voer. Hy het ook gesê dat die DA raadslede nie 'n voorstel kan maak oor 'n saak waarin hulle betrokke is en dan self daaroor stem nie. Die dringende aansoek dien vandag voor die hooggeregshof en word deur al die respondente teengestaan.
Tydens een van sy vele spreekbeurte het Donson na die speaker en die burgemeester as onwettig verwys, en nadat hy geweier het om die stelling terug te trek het die speaker beveel dat hy die raasdsaal moet verlaat. In reaksie hierop het Donson gesê hy kan nie sy woorde terugtrek nie, want dit is die waarheid. Daar is intussen verneem dat daar in die hofaansoek ook moontlik gevra word dat die aansoek om administrasie ongeldig verklaar moet word.
Alle oë is nou op volgende week gerig en daar is ook bevestig dat adv Koos Cilliers, wat verantwoordelik is vir regsaangeleenthede in die kantoor van die Wes-Kaapse premier, Maandag in Oudtshoorn sal wees vir samesprekings. Daar word 'n mediakonferensie beplan vir Dinsdag waartydens meer duidleikheid oor die aard en omvang van administrasie waarskynlik bekendgemaak sal word.