Volgens William van der Poll, `n ingenieur van Smec en VelaVKE wat aangestel is om die konstruksie te behartig word vier fasette van ontwikkeling beoog, waaronder vervoer, sport, kuns en kultuur asook besighede.
Befondsing vir die verskeie projekte sluit
R32,5 miljoen in wat vanaf nasionale regering ontvang is en R12 miljoen wat deur die plaaslike munisipaliteit geskenk is.
Die Jacobson-sirkel is geoormerk vir ontwikkeling aangesien dit as `n hoofroete geag word tussen die industriële- en woongebiede. "Die fokus van ons ontwikkeling was die beveiliging van die pad vir die talle voetgangers wat dit daagliks gebruik asook voertuie en veral swaarvoertuie. Ons hooffokus was om veiligheid en toeganklikheid te bied en om woongebiede met die sakesektore te verbind."
Johan Smit Argitekte is ook betrokke by die opgradering van die gemeenskapsaal in Toekomsrus. Volgens Brett Pyper van die KKNK is dit een van die projekte wat sowat twee jaar gelede deur Kuns Onbeperk, `n deurlopende kunste-ontwikkelingsprojek van die KKNK geoormerk is. Van die ontwikkelings wat hier beplan word sluit in die uitbou van `n ontvangs-area, gordyne, die plafon, lesingslokale en danslokale.
"Ons aanvanklike gesprekke rondom die Toekomsrus-saal het juis gehandel oor die verbetering van die akoestiek. Ons fokus is om die gemeenskap te ondersteun deur sterker infrastruktuur te skep," het Pyper vertel. "Ons is in `n vennootskap met die munisipa-liteit en poog om die kunste te ondersteun met sulke projekte."
`n Kunste akademie kan glo op die dorp gevestig word mits fasiliteite genoegsaam opgradeer is. Die akademie kan op sy beurt dien as voedingsbron vir die provinsiale akademie.
Nog `n projek behels die ontwikkeling van die kloof aangrensend aan die Toekomsrus-gemeenskapsaal. Volgens Van der Poll is hier `n gebied vol onontginde potensiaal wat tans die geleentheid vir kriminele aktiwiteite bied. Die beveiling van die kloof, `n botaniese tuin met Karoo-vetplante, `n krieketblad vir informele wedstryde en beligting word in die vooruitsig gestel ten einde die gebied optimaal te benut en die omgewing te verfraai.
Die aanbouings by die Bridgton-sportterrein nader ook voltooiing.
Die burgemeester van Groter Oudtshoorn, mnr. Gordon April het die ontwikkelings verwelkom. "Ons kom uit `n verlede waar baie mense glad nie sulke geriewe gehad het nie. As ons `n verandering kan maak, dan doen ons dit. Ons bou die geriewe en dan is dit die gemeenskap se verantwoordelikheid om dit op te pas."
Betrokkenes by die opgradering van die Toekomsrus-gemeenskapsaal is van links: Greg Baartman, John Stoffels (speaker), Gordon April (burgemeester), Brett Pyper, William van der Poll, Ernest Robinson en Johan Smit (Johan Smit Argitekte).