Die fabriek is deel van Badenhorst Slaghuis.
Volgens Cathy Meyer, wat ongeveer 21 jaar in haar huis in Jonesstraat bly, was die fabriek nie daar toe sy daar ingetrek het nie.
"Oorkant ten minste vier van ons huise lê daar 'n massiewe hoop bourommel al vir jare. Ons moet elke dag in dit vaskyk en dit lyk vreeslik. Die rook van die skoor-stene dam soms so op dat mens nie die voordeur kan oopmaak om vars lug te kry nie en ongeveer twee weke gelede het daar sulke vetterige water by die pype uitgeloop tot binne-in die straat.
"Die geraas is so erg dat ek soms nie kan slaap nie. Toe ek hier ingetrek het, het ek seker gemaak hierdie area is nie deel van die industriële gebied nie en die munisipaliteit het destyds gesê dit is nie. Ek sou nooit hier ingetrek het as dit so was nie," vertel sy.
Volgens haar het dit al 'n hele paar keer gebeur dat die vetterige water so in die straat afloop.
Kate Raubenheimer, Meyer se buurvrou wat al 45 jaar in haar huis woon, het dieselfde klagtes gehad. Sy sê ook dat dit onaangenaam is as gaste kom kuier en die woonbuurt lyk en ruik so vreeslik. Sy sê ook dat die rook glad nie goed is vir mense met asma nie en sukkel sy en ander bure met dié probleem.
Joey van Zyl woon al 50 jaar in haar huis in Jonesstraat en sê sy sukkel ook met die rook en die ge-raas van die fabriek.
Yvonne Philander woon oorkant die pad van Meyer en woon al 22 jaar in haar huis. Sy sê sy bly tuis by hul dogter omdat sy sieklik is.
"Ek kan die kind omtrent nie uitvat nie, want die rook maak haar asma erger en elke keer as ons wasgoed was en die wind waai dan waai dit die rook deur die wasgoed en maak dit van voor af vuil," vertel sy.
Ook Philander sê sy het al meer as een keer gesien hoe loop die vetterige water in die pad af.
Die Oudtshoorn Courant het twee ander huisgesinne besoek wat meer as 20 jaar in hul huise woon en dieselfde klagtes het.
Volgens die inwoners het hulle al verskeie kere klagtes by die munisipaliteit en by die eienaars van die slaghuis ingedien, maar daar het niks van gekom nie.
Die Oudtshoorn Courant het met Bennie Byleveld, 'n eienaar van die slaghuis en fabriek gesels.
Volgens hom het hy briewe aan die inwoners wat geraak word deur die fabriek, uitgedeel waarin hy hulle meedeel dat hy in die proses is om 'n muur rondom die slaghuis te bou.
"Die muur sal die bourommel wegsteek. Dit kos egter 'n hengse klomp geld so die muur gaan nie oornag gebou word nie, maar ek werk hard daaraan dat dit so spoedig moontlik gedoen geword. Oor die water wat in die pad geloop het is ek regtig jammer. Dit gebeur eenkeer in 18 maande. Daar het 'n verstopping in een van die pype gekom en toe ons die probleem opspoor het ons dit onmiddellik probeer regmaak.
"Die gevolg was dat die water in die straat af geloop het. Rakende die rook kan ek nie veel sê nie. Die slaghuis is al 22 jaar waar hy nou is en in daardie 22 jaar het ons vanaf die slaghuis vleis gerook. Daar was toe al rook gewees en ek was nie bewus van enige pro-bleme nie. Die skoorsteen is volgens regulasies opgesit wat beteken hy is hoog genoeg van die grond af en ver genoeg van die huise af," het Byleveld gesê.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit het gesê dat hulle nie bewus is van klagtes nie en as mense klagtes het kan hulle die munisipaliteit skakel by 044 203 3121 of 203 3000.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.

Die vetterige water het ongeveer twee gelede vanuit die fabriek tot binne-in die straat uitgeloop.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'