Die twee memorandums is onderskeidelik deur die DA-kiesafdeling van Oudtshoorn asook AfriForum aan Meyer oorhandig. Die memorandum van AfriForum is ook namens die Oudtshoorn Belastingbetalersvereniging (ORPA) en die Oudtshoorn Burgerlike Beweging (OBB) oorhandig.
Op sy beurt het Meyer 'n memorandum aan die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Gordon April, oorhandig.
In die onderskeie memorandums word redes verstrek waarvolgens die DA en die inwoners hulle dringende versoek tot administrasie aan die minister van plaaslike regering rig. Die redes wissel van beweringe van miljoene rande se wanaanwending van geld, tot beweerde agterstallige skuld van die munisipaliteit van ongeveer R100 miljoen.
Maandag se optog van die DA is verlede week deur die waarnemende munisipale bestuurder goedgekeur en na raming het ongeveer 2 000 mense voor die munisipale kantore betoog teen die huidige ANC/ICOSA/NPP-koalisie wat steeds die dorp regeer.
Volgens die uitslag van 'n tussenverkiesing wat verlede jaar op 7 Augustus gehou is, moet die DA/COPE-koalisie aan bewind wees aangesien hulle na die tussenver-kiesing 13 raadslede het teenoor die ANC/ICOSA/NPP se twaalf. Verskeie hofsake, systappe en tegniese punte het die afgelope jaar egter gekeer dat die DA 13 handtekeninge kon kry om 'n vergadering te belê waarin die burgemeester, onderburgemeester en speaker verwyder word om die DA in staat te stel om die raad oor te neem.
Een van die sake wat lank gesloer het was die DA se stryd om twee van sy raadslede se reg om in vergaderings te stem deur die hof te laat afdwing.
Die speaker van Oudtshoorn het verlede jaar gelas dat die twee raadslede nie aan stemming in die raad mag deelneem nie aangesien daar 'n interne ondersoek deur die DA teen hulle geloods is as gevolg van 'n voorval in Junie. Die hof het egter beslis dat die speaker se besluit om hulle stemreg te ontsê in sy eie belang was. Sy aansoek om appèl is daarna van die hand gewys asook sy aansoek by die grondwetlike hof.
Tot op hede was daar egter 'n reeks ander voorvalle wat die DA verhinder om oor te neem. Dr. Ivan Meyer het Maandag teen die ANC/ICOSA/NPP-koalisie en 'n privaat raadgewer, Drewan Baird, uitgevaar en gesê hulle is besig is om die dorp leeg te steel en hulself te bevoordeel. Hy het beklemtoon dat die optog daarop gemik is om demokrasie terug te bring na Oudtshoorn en dat die inwoners keelvol is vir die huidige plaaslike regering.
Maandag se optog is gekenmerk deur sporadiese onderbrekings van die DA sprekers toe 'n liedjie waarin die spot met die DA gedryf word oor reuse luidsprekers bokant die ingang tot die munisipaliteit gespeel is. Daar was ook gereeld oor die luidsprekers tussenwerpsels as reaksie op sommige van die punte wat deur die DA lede gemaak is.
'n Navraag aan die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, ten opsigte van die moontlikheid en die proses van administrasie is teen saktyd nog nie beantwoord nie. Vrae oor moontlike administrasie is al in die verlede aan Bredell genoem, maar op daardie stadium het hy aangedui dat dit nie 'n eenvoudige proses is om 'n dorp onder administrasie te plaas nie.
In reaksie op Maandag se gebeure het die waarnemende munisipale bestuur-der, Ronnie Lottering, Dinsdag gesê dat hulle die optog goedgekeur het en dat dit vreedsaam afgeloop het. Hy het bygevoeg dat die hele proses vir rekorddoeleindes op video vasgelê is. Hy het ook genoem dat dr. Ivan Meyer en die voorsitter van die DA se kiesafdeling Pat Wagenaar tot Woensdagmiddag om 16:00 geleentheid gegun is om bewyse te lewer vir die aantygings wat hulle gemaak het.
Dit het intussen ook aan die lig gekom dat dr. Meyer, tydens sy oorhandiging van die memorandum aan die burgemeester op sy beurt ook 'n dokument vanaf die burgemeester ontvang het. Lees meer oor daardie oorhandiging op bladsy 2.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.
'n Gedeelte van die ongeveer 2 000 mense wat Maandag voor die munisipale kantore betoog het. Inlas: Pat Wagenaar (voorsitter van die DA-kiesafdeling in Oudtshoorn) oorhandig die versoek om die dorp onder administrasie te plaas aan dr. Ivan Meyer (links).
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'