Die toekenning is aan hom oorhandig by die sesde Nasionale LandCare Konferensie wat van 22 tot 26 September in Durban aangebied is.
Sy passievolle belangstelling in die opbou van mense asook die volhoubare bestuur van natuurlike hulpbronne was bydraende faktore wat gelei het tot die toekenning. Die toekenning word gegee aan 'n beampte vir die suksesvolste toepassing van LandCare in 'n gemeenskap.
Volgens Van der Merwe is LandCare 'n omvattende en geïntegreerde proses wat 'n gemeenskap in staat stel om homself te organiseer en te bestuur en skakel direk in by die geïntegreerde ontwikkelingsplan van die munisipaliteit. Dit is 'n proses waar die gemeenskap hulle behoeftes, tekortkominge en geleenthede kan oorweeg en bespreek en dan deur middel van projekte kan aanspreek.
LandCare (voormalig Grondbewaring) is 'n sub-program van die departement se volhoubare hulpronbestuurprogram en is ver-antwoordelik vir die ontwerp en bou van hulpbronbewaringswerke soos veesuiping-stelsels (vir effektiewe veldbestuur), grondbewaringstrukture (vir rehabilitasie en herwinning van grond), rivierbeskermingswerke (om riviere te stabiliseer en te rehabiliteer deur Groynes in riviere te bou), ondergrondse dreineringstelsels en nog meer.
Hierdie werke vorm deel van plaasbeplanning wat deel is van gebiedsbeplanning.
"LandCare gebiedsbeplanning lei tot projekte soos Junior LandCare vir gr. 6- en 7-leerders en uitwissing van indringerplante," sê Van der Merwe.
Laasgenoemde is 'n werkskeppingsprojek wat waterkwaliteit en -kwantiteit en die herstel van die inheemse plantegroei bevorder. Die voedselsekuriteitsprogram behels onder meer die opleiding van mense in die gemeenskap en die installering van besproeiingstelsels vir gemeenskapstuine.
Die uiteindelike mikpunt is selfonderhoud en entrepreneurskap. Van der Merwe was ook betrokke as mentor by die opleiding en ondersteuning van 45 jong mense in verskillende fases van hulle loopbane. Dit sluit in: Premier Advancement of Youth-studente, siviele ingenieurstudente asook kandidaat siviele ingenieurstegnici.
Van der Merwe is opreg dankbaar vir sy werkgewer.
"Die departement het nie net vir my werk gegee nie, maar het my eintlik ook op 'n ongelooflike reis geneem waar ek talle mense ontmoet het en ook die natuur opreg begin beleef en waardeer het," het hy gesê.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Johan van der Merwe
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'