Die 55-jarige Niklaas Damons van Dysselsdorp was 'n pasiënt in die ambulans wat reg van voor getref is deur 'n VW Golf wat vermoedelik besig was om resies te jaag met 'n ander VW Golf. Al vier insittendes van die VW Golf is op slag dood terwyl Damons en drie ambulanspersoneel beseer is.
Dit is onseker wat die oorsaak van Damons se dood was aangesien aanvanklike aanduidings was dat hy slegs lig beseer is. Die ambulans het Damons in Dysselsdorp gaan haal nadat hy asemhalingsprobleme getoon het en was op pad Oudtshoorn-hospitaal toe, toe die ongeluk gebeur het.
Volgens Angelique Jordaan, kommunikasiebeampte van gesondheid, het 'n vroulike vrywillige werker wat by Damons gesit het, ernstige spinale beserings opgedoen en die ambulansbestuurder het 'n heupbesering opgedoen. Hulle is al twee na die George-hospitaal oorgeplaas terwyl die derde insittende van die ambulans vir geringe beserings behandel is en dieselfde dag ontslaan is.
Dit blyk dat twee VW Golf motors, een pers en een swart, met 'n groep vriende in die vroeë oggendure, omstreeks 01:30 op pad was na 'n klub in Dysselsdorp nadat hulle vroeër by 'n ander klub in Oudtshoorn gekuier het.
Op 'n blinde hoogte, met 'n dubbele sperstreep het die pers VW Golf vermoedelik probeer om die ander een verby te steek en reg van voor met die ambulans gebots. Die afwesigheid van enige remmerke dui daarop dat nie een van die bestuurders kans gehad het om te reageer nie.
Die VW Golf wat deur Johentin Malambo bestuur was, is 'n onherkenbare wrak. Die ander drie oorledenes is Sherwin Goliath – 'n matriekleerder, Patrick Stuurman en Carmen Jackson.
Bewerings in die media dat die ander VW Golf van die toneel weggejaag het blyk onjuis te wees. Volgens 'n bron het die Oudtshoorn Courant verneem dat die bestuurder, 'n jong vrou van Oudtshoorn, omgedraai en by die ongelukstoneel stilgehou het. Nadat haar passasiers uitgeklim het, het sy glo gery om haar broer te gaan haal en weer teruggekeer na die toneel.
Indien hierdie ongeluk veroorsaak is deur twee motors wat resies gejaag het, is dit die derde ernstige ongeluk waarby straatrenne betrokke is. In Julie is Hugo Erasmus dood nadat sy BMW deur 'n VW Golf getref is wat vermoedelik aan 'n straatwedren deelgeneem het en in April het nog 'n VW Golf tydens 'n resies in Bridgton 'n boom getref en in twee geskeur.

Die gru-ongeluk wat tot die dood van 5 mense gelei het, het plaasgevind op 'n blinde hoogte met dubbele sperstrepe wat deur die bestuurder van die VW Golf verontagsaam is.