Die ongeluk het omstreeks 18:00 verlede Saterdag in Zebraweg, Bridgton, plaasgevind toe die bestuurder van 'n wit Ford in die baan van aankomende verkeer gery het. Sy motor is reg van voor deur 'n Toyota Yaris getref. Die twee voertuie het die pad versper en die polisiebeamptes moes honde inspan om te verhoed dat mense, wat weerskante van die toneel saamgedrom het, op die toneel kom terwyl nooddienswerkers beseerdes uit die voertuie gehaal.
Volgens 'n verklaring van sers. Gretchen Michaels van die Oudtshoorn-polisie is die beseerde insittendes van beide voertuie per ambulans hospitaal toe geneem. Die bestuurder van die Ford, Noah Fyfers (57), is volgens haar op die toneel gearresteer voordat hy hospitaal toe geneem is vir bloedtoetse en is later die aand in die hospitaal oorlede.
Sover vasgestel kon word was hy in Mosselbaai woonagtig. Gerugte het die rondte gedoen dat Fyfers nie op die toneel behandel is nie en nie ooglopend ernstig beseer was nie. Die woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement in George, Nadia Ferreira, het in 'n verklaring gesê dat Fyfers per ambulans hospitaal toe geneem is en met 'n rolstoel by die hospitaal ingebring is.
"Die pasiënt is ondersoek en vir X-strale gestuur waar gevind is dat hy veelvuldige beserings opgedoen het wat ribfrakture insluit. Daar is ook bloed getrek. Die pasiënt het ongelukkig later beswyk as gevolg van sy beserings. Ons ontken dat daar 'n argument tussen personeel en die pasiënt was."
Die insittendes van die Toyota Yaris was twee broers en 'n suster. Die Oudtshoorn Courant het gister met hulle ma, Anne Campher, gepraat oor die ongeluk en haar kinders se toestand. "Ons is baie bekommerd oor Jaydine. Sy moes Maandag in George 'n operasie aan haar been ondergaan, maar as gevolg van komplikasies kon die operasie eers gister (Woensdag) gedoen word. Die dokters het ons laat weet haar toestand is baie ernstig en hulle het haar in intensiewesorg gesit waar sy aan 'n asemhalingsmasjien gekoppel is, want sy kan nie self asemhaal nie." Sy sê dat 'n pen in Jaydine se been gesit is en dat haar arm ook gebreek is.
Volgens Campher was haar drie kinders Jaydine (22), Jodi Wayne (19) en Peter-John (17) net na huisgodsdiens op pad na 'n familielid toe die ongeluk plaasgevind het.
"Die ongeluk het skaars vier minute van ons huis af gebeur. Jodi-Wayne het bestuur en hy sê die wit kar het net skielik reguit op hulle afgepyl," sê Campher.
Jodi-Wayne het sy arm gebreek en 'n liesbesering opgedoen terwyl Peter-John slegs kneusplekke opgedoen het.
Dit is onbekend hoeveel mense in die wit Ford was aangesien sommige omstanders beweer het dat van die insittendes ongedeerd uitgeklim het.
Die ernstig beseerde Jaydine Campher word behandel terwyl 'n groot skare nuuskieriges weerskante van die toneel saamdrom. Foto: Hanes Visser.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'