Sersant-majoor Melissa van Rooyen, wat ook in die weermag se SA pluimbalspan opgeneem is, en ‘n vriendin, Nandi de Wet het, soos gewoonlik net voor vyfuur met hulle oefensessie begin. Hulle het op die sypaadjie gedraf en wou by die De Jager-sportterrein omdraai om die bult uit te hardloop.
“Ek was teen die sypaadjie binne die rooilyn en het gewag dat die trokkie verbykom voor ons die pad oorsteek,” het sy vertel. Die trokkie het egter te ver na links gery en die ysterraam van die kantspieël het haar teen die rug en skouer getref. Die slag het haar met haar rug op die randsteen laat val.
“Die trokkie het eers omtrent 15 meter verder tot stilstand gekom nadat Nandi agter hulle aangehardloop het. Dit het toe agteruit begin ry, geruk en weer vorentoe gery voordat die bestuurder dit gestop kon kry.”
Daar was geen ander verkeer nie en De Wet het polisiestasie toe gehardloop om hulp te gaan soek. Intussen het ‘n wit Uno stilgehou om Van Rooyen te help.
Sy sê dat die instrukteur op die toneel vir haar gesê het dat hy die leerling gewaarsku het dat daar mense langs die pad is en dat hy te ver links ry. Dit blyk dat hy die stuurwiel probeer gryp het om uit te swaai.
“Wat my woedend maak is dat die man wat my vanoggend raakgery het om agtuur getoets sou word vir sy bestuurderslisensie. Hoe de duiwel kan iemand wat so bestuur al reeds ‘n afspraak hê vir ‘n rybewys en ek wil weet of hy toe vandag sy lisensie gekry het!” het die ontstoke Van Rooyen gesê nadat sy mediese behandeling ontvang het. Sy het kneusplekke op haar rug en het weefsels in haar laer rug beseer. Sy het aangedui dat sy en haar man, kapt. Frans van Rooyen van die SAPD die saak nie daar gaan laat nie.
“Ek wil weet of die instrukteur ‘n instrukteursertifikaat en ‘n openbare bestuurspermit (PDP) het en ek wil weet hoekom iemand wat ‘n afspraak vir 'n lisensie het nog vyfuur dieselfde oggend moet lesse kry.” Sy is ook ongelukkig omdat die polisie nie op die toneel daarop aangedring het om die instrukteur se dokumente, wat volgens wet by hom moet wees, te sien nie.
“Dit is tyd dat die mense van Oudtshoorn iets doen aan die bestuurskole. Hulle vat ons dorp oor en almal staan maar net en kyk.” Alhoewel sy ‘n klag van roekelose en nalatige bestuur teen die bestuurder gelê het voel sy dat die bestuurskool ook verantwoordelik gehou moet word. “Hierdie mense maak derduisende rande, ek weet want een van die weermaglede wat ‘n bestuurskool gehad het, het gereeld daarmee gespog.”
Van Rooyen sou oor drie weke aan 'n kompetisie deelneem om die fiksste soldaat in die land aan te wys, maar weet nie of die ongeluk haar kans in die wiele gery het nie.
‘n Senior amptenaar van die department van vervoer wat Oudtshoorn besoek het en op pad terug Kaapstad toe was, het gehoor van die ongeluk en Woensdagmiddag by die Oudtshoorn Courant met Van Rooyen gesels. Hy het die koerant verlede week besoek en verduidelik dat hy in Oudtshoorn is, spesifiek om klagtes rondom bestuurskole op te volg.

Die trokkie van Show the Way-bestuurskool is Dinsdagoogend op die ongelukstoneel met 'n selfoon afgeneem.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'