"Ek verstaan nie hoekom so iets met haar moes gebeur nie, maar ek probeer berus by die feit dat God dit so vooruitbeplan het - al is dit hoe moeilik," sê past. Alex Roux oor sy vrou se onverwagse dood.
Alex (80), wat al 55 jaar in die bediening is, is 'n pastoor by die AGS kerk in Calitzdorp en Rita het bykans 200 kinders met leukemia gehelp om hul stryd teen kanker te beveg.
Rita se suster, Susan Opperman, vertel dat die Roux's die oggend voor die aanval by haar in Oudtshoorn gekuier het.
"Alex het die middag toe hulle by die huis kom gou dorp toe gery en Rita het wasgoed opgehang toe 'n jong man by haar kom staan. Hy het blykbaar vir haar gesê "vandag is dit jou beurt". Hy het haar aangeval en 14 keer met 'n skerp voorwerp in haar arm en in haar sy gesteek. Hy het ook haar bene onder haar uitgeruk en dit is toe sy geval het," vertel Opperman.
Sy vertel verder dat die egpaar 'n paar dae na die aanval, terwyl Rita nog aangesterk het, by 'n familielid in die Kaap gaan kuier het. Rita het begin siek word en die wond in haar sy het begin bloei. Die dokter het haar in Tygerberg-hospitaal laat opneem waar sy volledig ondersoek is.
Volgens Opperman het die dokter tydens ondersoeke in die hospitaal 'n breinskandering gedoen en 'n gewas op haar se brein ontdek.
Sy sê Rita het jare al kanker en was in remissie, maar niemand het geweet van die breingewas tot na die aanval nie. Rita is verlede Saterdag in die hospitaal oorlede.
'n Tweede terugslag het egter op pastoor Roux gewag toe hy Sondag na sy vrou se dood te-ruggekeer het Calitzdorp toe. Iemand het in die tyd wat hy en Rita in die Kaap was by hulle huis ingebreek.
Die inbrekers het 'n groot hoeveelheid vleis gesteel, die huis beskadig en ook probeer om twee kluise uit die muur te breek.
Daar word vermoed dat die inbrekers met 'n sleutel in die huis ingekom het aangesien daar geen ruite of deure gebreek is nie.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie sê, die Roux's wou na die aanval nie 'n klag van aanranding lê nie, maar 'n saak van huisbraak word nou ondersoek.
"Daar is ook 'n ondersoek om uit te vind of haar dood enigiets met die aanranding te doen het," het hy gesê.
Rita word oorleef deur haar man, drie kinders en ses kleinkinders. 'n Roudiens vind môre om 11:00 in die AGS kerk, Calitzdorp, plaas.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Past. Alex Roux, Rita se man, is steeds erg geskok oor sy vrou se dood.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'