OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer het Woensdagoggend ‘n mediaverklaring uitgereik waarin hulle hulself distansieer “van persone of instansies wat buite die wet optree of radikale optredes beplan vir 10 Augustus 2023.”
Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer, het gesê dat hulle op 10 Augustus ‘n vergadering met Chris Macpherson, burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit beplan, wat oor die verhoogde munisipale tariewe sal handel.
Die vergadering is egter slegs vir genooide lede van die besigheidskamer.
‘n WhatsApp-boodskap wat deur Arno Greyling geskryf is doen tans die ronde waarin inwoners gevra word om aan ‘n optrede voor die munisipaliteit op 10 Augustus deel te neem.
Die WhatsApp-boodskap lees: “Maak solank vullissakke met inhoud bymekaar. Ons gaan dit voor Munisipaliteit neersit 10 Augustus om saam te val met die vergadering met Burgemeester om 14:00. As dit dan so duur is om vullissakke te verwyder bring ons dit maar na hulle toe en vra weer afslag. ‘n Optog word ook beplan! Hou moed en geduld. Hier kom n Lang en uitgerekte fight.”
Ferreira sê die besigheidskamer en hul vergadering het niks met die aksie te doen nie.
“Sakekamers funksioneer as tussengangerorganisasies tussen individuele firmas en plaaslike rolspelers, soos plaaslike regering. Sakekamers het die volgende hoofrolle in ekonomiese ontwikkeling: fasiliteerder, koördineerder, aktiveerder, stimuleerder en ontwikkelaar. Binne hierdie oorhoofse doelwit is die hoofrolle van 'n sakekamer leierskap in koördinering van plaaslike rolspelers, vorming van vennootskappe, netwerkvorming en bevordering van lede, kommunikasie en inligtingvloei en besigheidsondersteuning en opleiding,” lui die verklaring.
Volgens hom het hulle ‘n formele vergadering ten opsigte van hoë belastingtariewe, met die Oudtshoorn-munisipaliteit belê waar daar slegs lede van die Oudtshoorn-besigheidskamer teenwoordig mag wees om uitvoering te gee aan hul mandaat.
“Indien daar wel ‘n formele drukgroep gestig word, sal ons dit ondersteun deur ‘n platform te skep om kommunikasie met die Oudtshoorn-munisipaliteit te verkry,” het hy afgesluit.
Greyling het op sy beurt gesê dat sy aksie op 10 Augustus niks met die vergadering te doen het nie, maar dat dit bloot op dieselfde dag as die vergadering gebeur.
“My aksie het niks met die besigheidskamer te doen,” het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’