OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep inwoners van Oudtshoorn het Dinsdagmiddag 'n optog na die Oudtshoorn-landdroshof gehou om hulle uit te spreek teenoor geweld teen vroue en kinders. Hulle het ook 'n memorandum aan die hooflanddros oorhandig.
Die groep, grotendeels vroue, sê in die memorandum die gemeenskap wil met die optog wys hulle is bewus van die vlaag van moorde en verkragtings van vroue en kinders die afgelope tyd in die land en dat Oudtshoorn geen uitsondering is nie.
Die burgemeester, Colan Sylvester, het buite die hof gesê die tyd van stilbly is verby en 'n beroep op inwoners gedoen om te praat wanneer hulle weet van die dade wat mans pleeg.
"Ons moet weer ons strate terugneem en buurtwagte en straatkomitees op die been bring.
Vandag is dit my kind en môre joune wat verkrag of vermoor word. Ons leef in 'n vakuum. Laat ons opstaan teen die geweld teen ons vroue en kinders."
Ds. Andre Boesak van die Verenigende Gereformeerde Kerk het gesê mense weet dikwels wie die verkragters en moordenaars is, maar kyk eenkant toe. Hy het ook sy teleurstelling uitgespreek oor die min mans wat aan die optog deelgeneem het.
In die memorandum vra die gemeenskap onder andere dat die howe nie borgtog aan seksuele oortreders en moordenaars toestaan nie en op parool vrylaat nie, omdat dit dikwels dieselfde misdadigers is wat weer moor en vroue en kinders verkrag. Hulle eis ook dat die doodstraf weer teruggebring moet word.
Die organiseerder van die optog, Hein Coetzee, het 'n beroep op die polisie gedoen om nie klagtes van gesinsgeweld te ignoreer nie omdat dit dieselfde klaagsters is wat 'n paar maande later verkrag word.Volgens hom moet die memorandum gesien word as 'n noodkreet teen geweld teenoor vroue en kinders.
'n Deel van die groep inwoners wat Dinsdag aan die optog teen geweld deelgeneem het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'