OUDTSHOORN NUUS - Opgraderings by die De Jager-sportkompleks sal amptelik volgende jaar op 1 Maart begin.
So lui ‘n verklaring van Hannes Visser, media- en kommunikasiebeampte vir die burgemeester.
Visser sê na aanvanklike onduidelikheid oor die aanvangsdatum van opgraderingswerk aan die tartan-oppervlak by die De Jager-sportkompleks is daar verlede week met die kontrakteur ooreengekom dat werk volgende jaar sal begin.
“Die kontrakteur, Martin & East, het verlede week tydens onderhandelinge met die munisipaliteit ingestem om sonder enige addisionele koste, die aanvangsdatum met vier maande aan te skuif.”
Volgens Visser sou die opgraderingswerk, ter waarde van meer as R9 miljoen, verlede week ‘n aanvang geneem het.
“In gesprekke met atletiekverenigings, skole en ander organisasies was dit egter duidelik dat dit tot groot nadeel van atletiek en die dorp sal wees indien die De Jager-sportkompleks vir die volgende vier maande ontoeganklik sou wees. Met hierdie ooreenkoms kan die huidige atletiekseisoen tot 28 Februarie onverhinderd voortgaan.”
Hy het verder gesê dat daar enkele byeenkomste en geleenthede is wat vir Maart beplan was.
“Die munisipaliteit is besig om met die betrokkenes wat die bane dan sou gebruik het, te onderhandel. Die spreiligte by die De Jager-sportkompleks word ook teen ‘n koste van meer as R2 miljoen opgradeer, maar dit kan moontlik reeds gedurende die huidige atletiekseisoen gedoen word sodat die baan ook vir aandbyeenkomste gebruik kan word.”
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'